Dit was die jaar 1976. Ons het by Bizweni Gevangenisplaas gewoon naby die dorpie Umzimkulu. Umzimkulu is agtien km. suid-wes van Ixopo en ongeveer 250 km. noord-oos van Umtata in KwaZulu Natal.
My eersteling was toe twee jaar oud. Laerskool Umzimkulu was 'n klein skooltjie met 'n leerlingtal van ongeveer veertig kinders. Die skoolhoof se naam was Mnr. A.J. van Rijn en wat ek van hom onthou, is dat hy baie lief vir sweiswerk was. Hy het ook graag met 'n lieflike, duur vulpen geskryf en het die mooiste handskrif denkbaar gehad.
Dit was 'n dubbelmedium-skool en daar was omtrent ewe veel Afrikaans- as Engelssprekende kinders. Mnr. van Rijn het elke tweede Maandag dus sy opening in Engels waargeneem. Was dit toe dat ek vir die eerste maal in my lewe gehoor het presies hoe mooi Bybelwoorde in Engels klink?
Psalm 139
O Lord, thou hast searched me, and known me.
Thou knowest my downsitting and mine uprising, thou understandest my thought afar off.
Thou compassest my path and my lying down, and art acquainted with all my ways.
For there is not a word in my tongue, but, lo, O Lord, thou knowest it altogether.
Ek wou nie regtig op daardie stadium van my lewe skoolhou nie. Ek wou net Ma- en vrouwees, want alles was nog so nuut en opwindend. Toe een van die permanente onderwysers egter met kraamverlof moes gaan, was daar nood en het die hoof my gevra of ek nie kans sien om te kom "uithelp" nie. Dit was 'n klein dorpie en onderwysers so skaars soos hoendertande. Ek het ingewillig. My kleuterkind kon saamkom.
Op 'n stadium het die hoof bedank of afgetree en het baie kinders ook die skool verlaat. Ek en agt kleingoed het oorgebly. Hoe heerlik! Net agt leerlinge in my klas in verskillende Grade en tale en een kleinding van my eie. Ek was toe sommer die hoof, die Juffrou, die sekretaresse en die "tealady", alles in een.
Elke dag van half agt tot een uur sou ons klompie die lewe en sy uitdagings aanpak. En dit was wonderlik. Ons skoolgebou was onder groot bome en nooit het onsonveilig gevoel nie. Ek het soggens een vir een kind gevat en sy werkies met hom gedoen en gehelp, óf in Afrikaans, óf in Engels. Terwyl ek besig was met een of twee in Gr. Een, het dié wat in ander Grade was rustig gelees of geteken totdat dit hulle beurt was om uitsoek-aandag te kry. Intussen het my eie Rooikoppie sit en blokkies speel of krabbels met vetkryt geteken. Soms was die pouses sommer ook langer as gewoonlik en het die klok gelui net wanneer hy wil. Of wanneer ons wil.
Die seuntjie derde van links in die agterste ry se naam was John Havemann. Hy was baie intelligent. Suiwer Engels van bo tot onder. Op daardie stadium was my Engelse woordeskat maar beperk, komende van die goeie ou Transvaal. Ek het vinnig geleer as 'n mens nie Engels of Zulu in Natal praat nie, dan praat jy nie. Dit was John wat my ook geleer het dat 'n bourekenaar 'n "Quantity surveyor " in Engels is, want sien, sy Pa was een. Ek onthou dit tot vandag toe nog. 'n Onderwyser leer dikwels ook baie by kinders.
Die seuntjie heel regs agter se naam was Terry Hobson. Hy het pouses sy kosblik oopgemaak en gereeld vir my 'n stukkie van sy heerlike "Banana loaf" wat sy Ma gebak het, aangebied. Ek moet nog die resep iewers tussen my bêregoed hê. Dit was watertand-lekker!
Op 'n dag loop daar 'n kat by ons klaskamer verby. "Puuuusssss ! Puuuusssss!" roep Terry haar in Engels.
Dit was vreedsame dae propvol onskuld en eenvoud. Aan die einde van daardie jaar is die Gevangenisplaas aan die Transkei oorhandig en het die klein skooltjie ook toegemaak. Ons het na Ixopo verhuis en die kinders het elk 'n ander heenkome gevind. Ons almal was maar hartseer om te groet, want ons het geweet daar sou nooit weer presies sò 'n skool op aarde wees nie.