9 June 2016

Nostalgies en nou

Ek ken haar en ek ken haar nie. Annelie van die Laerskool. Oulike juffrou. Sy bel my om te vra of ek op 8 Junie van dese jaar bereid sal wees om Gr. Eens, twees en dries te kom help beoordeel.  Dit is redenaartyd by die skool. “O jaaa!” dink ek onmiddellik, gedagtig aan die wonderlike tye toe ek self deel van die skool se “meublement” was. Dit behoort lekker te wees.

Gewapen met pen en inskrywingsvorm, ry ek skool toe.  Oorkant die yslike, oeroue plataanbome langs netjies opgeknapte asbesgeboue wat eens op ‘n tyd ‘n koshuis was, gebeur dit. 
Ek sit tjoepstil in my kar en staar voor my uit terwyl die fliek in my kop begin draai. My ma werk as sekretaresse in die skoolkantoor. Dit is 1956. Ek is in St. 1. My ligbruin hare  skuinspaadjie geborsel en met ‘n knippie vasgesteek. ‘n Draadheining en sementpaadjies, vaal wintergras en wit ryp soggens vroeg.  Later louwarm son onder die groot bome, ‘n heerlike speelplek vir kinders. Ons krap ons voorletters en dié van ons kammakastige kêrels uit op die wit boomstamme.  E.G. loves J.d.V. of andersom. Netjies in ‘n hartjie. Vir ewig en altyd. Ons oë en monde vol heerlike kindergeheime.  Op ‘n dag sny ek my voet toe ons wegkruipertjie speel.  Hoekom het niemand die sinkplate wat langs die gebou lê, weggevat nie? Ou dr. Roos doen knap naaldwerk met drie steke. ‘n Yslike gebeurtenis vir ‘n dogtertjie wat altyd veilig en beskermd voel. Ma was altyd iewers naby.  Dié wete ‘n warm troos dwarsdeur my laerskooljare.  
Eensklaps gryp die besef van verbygaande tyd my vas. Wat ek sopas onthou het, voel soos gister. Toe Juffrou Carmie my later in die skoolsaal aan die jong mammas en pappas bekend stel, sê sy met oortuiging: “Dié tannie het jaaaaaaare gelede hier skoolgehou!”  Sy het nie geweet van die jaaaaaaaaaare gelede wat ek hier skoolgegààn het nie.
Nietemin, die kleingoed se praatjies is pragtig. Hul woordeskat fenomenaal. Genoeg selfvertroue. Hier en daar enetjie wat te sag gepraat het of te vinnig. Sekerlik ook maar vol senuwees en bewerasies. Dit is ‘n tameletjie vir ‘n klein mensie om voor ‘n saal vol grootmense te staan en redeneer. In ons dae het sulke dinge nie bestaan nie. Ons het niks geweet van woorde soos “hiperaktiwiteit, kommunikasie of www. mieliestronk. co.za” nie. Ek sit my en verluister.
Alles het verander. Tog bly ouers altyd ouers. Ek beloer hulle van agter af terwyl hul kosbaarste besittings praat. Liefde en omgee en betrokkenheid is oral te sien. Pryse word uitgedeel, gesiggies straal. Bekendes groet en kuier. Dis amper skemer toe ek huistoe ry.
Ek het vergeet om te kyk of ons voorletters nog op die ou plataanboom se stam staan, maar vandag het ek baie hartjies vol liefde beleef. Dankie daarvoor!
 

2 comments:

  1. Sjoe, wonderlike herinneringe Liz, jy's geseënd dat jou kinderjare nog so naby jou is. Myne lê vér in Pietersburg en Umtata. Lekker gelees, dankie!

    ReplyDelete
    Replies
    1. So heerlik om jou spore hier te ontdek, dankie baie Maree!

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...