28 December 2016

Ses-en-veertig jaar

Hoe lank is ses-en-veertig jaar? In ure, dae en maande gemeet is dit 'n bàie lang tyd. In onthou van wat toe gebeur het en hoe dit was, is dit soos gister. Kort. En vinnig verby. Amper 'n halwe eeu, eintlik net 'n oogwink.

Op 15 Des. 2016 kry ek 'n facebook-boodskap: "Hi, dis ekke , die klein Portugeuse seuntjie van 46 jaar terug my juffrou. Ek is so bly om te sien jy lyk nog goed en dis duidelik jy geniet die lewe."
Ek val amper net daar van my stoel af! Rui Cajada! Ek onthou hom sò goed. Ses-en-veertig jaar verdwyn soos 'n asempie voor die son. Ek staan wéér in my klaskamer in Laerskool Barberton. Jonk, lewensbly en vol energie. 1970, die tweede jaar van my lang onderwysloopbaan. 

En hy staan reg langs my met sy pikswart ogies en vriendelike gesiggie. 'n Leerling so nà 'n juffrou se hart. Fluks en slim, op en wakker. Ek gaan grawe die ou album uit en soek die klasfoto. Daar is nog 'n paar gesiggies wat ek onthou: Roelfie du Plooy, Koos Smith, (van wie se ma ek byna elke dag 'n briefie gekry het) Inus Dreyer, (wat in dieselfde kerk as sy juffrou was) Hannes Gates, Leon Strydom, (wat my een naweek met sy pa se bakkie wou huistoe neem) Marinda en Louisa Goss wat maatjies was, Matilda, Burger van den Berg, (by wie se ouers ek 'n paar maal tussen die hoë bome van die bosbou-plantasie gaan kuier het)  Paultjie.  (Louisa het hom "Pippel" genoem as sy hom aan die hand vat wanneer die huistoetydklok gelui het) Was daar ook 'n Gerrie en 'n Thomas en wie se van was McSeveney? Ai, as mens se geheue jou so in die steek begin laat.... 

 Nietemin, my Rui (spreek uit: Roei, soos in Louis)  het intussen 'n man geword, 'n pa van twee seuns en ek 'n ouma van vyf kleinkinders en ma van vier eie kinders, almal nou al grootmense. Hy woon nie te ver nie. Ons reël 'n kuiertjie by my huis. Hy vertel vir almal by sy werk hy gaan sy juffrou weer ontmoet. Ek vertel vir my kinders die mooi ware verhaal. Ons is opgewonde.

Die weerontmoeting maak ons harte warm en ruim. Hy stel my voor aan sy vrou, Annette. Ek kry sjokolade present. Ons gesels en gesels. Die lewe het hom goed behandel. My klein seuntjie het mooi gevorder, sy bes gedoen. Goeie werk, rustige mens. Omgeemens. My hart voel so bly. Want was dìt nie wat die jong juffrou van toentertyd in gedagte gehad het toe sy voor haar klas vol Gr. Eens gestaan het nie: dat hulle almal eendag suksesvol sal wees en 'n mooi lewe sal lei. En hier staan die bewys voor my oë.


Ek en Rui nà 46 jaar. Wat 'n voorreg. Wat 'n bevredigende gevoel om te weet hy het my kom opsoek, moeite gedoen, omgegee.  
 
 

 Annette en Rui.
 
Ons stap rondawel toe waar my kuns lê en wag om verkoop of uitgedeel te word. Hy kies vir hom 'n waterverf skildery. 'n Pad wat kronkel en draai oor groen heuwels. Soos ons lewens, soms opdraende, soms afdraende en baie keer net heerlik gelyk pad. Soos vandag.
 

9 June 2016

Nostalgies en nou

Ek ken haar en ek ken haar nie. Annelie van die Laerskool. Oulike juffrou. Sy bel my om te vra of ek op 8 Junie van dese jaar bereid sal wees om Gr. Eens, twees en dries te kom help beoordeel.  Dit is redenaartyd by die skool. “O jaaa!” dink ek onmiddellik, gedagtig aan die wonderlike tye toe ek self deel van die skool se “meublement” was. Dit behoort lekker te wees.

Gewapen met pen en inskrywingsvorm, ry ek skool toe.  Oorkant die yslike, oeroue plataanbome langs netjies opgeknapte asbesgeboue wat eens op ‘n tyd ‘n koshuis was, gebeur dit. 
Ek sit tjoepstil in my kar en staar voor my uit terwyl die fliek in my kop begin draai. My ma werk as sekretaresse in die skoolkantoor. Dit is 1956. Ek is in St. 1. My ligbruin hare  skuinspaadjie geborsel en met ‘n knippie vasgesteek. ‘n Draadheining en sementpaadjies, vaal wintergras en wit ryp soggens vroeg.  Later louwarm son onder die groot bome, ‘n heerlike speelplek vir kinders. Ons krap ons voorletters en dié van ons kammakastige kêrels uit op die wit boomstamme.  E.G. loves J.d.V. of andersom. Netjies in ‘n hartjie. Vir ewig en altyd. Ons oë en monde vol heerlike kindergeheime.  Op ‘n dag sny ek my voet toe ons wegkruipertjie speel.  Hoekom het niemand die sinkplate wat langs die gebou lê, weggevat nie? Ou dr. Roos doen knap naaldwerk met drie steke. ‘n Yslike gebeurtenis vir ‘n dogtertjie wat altyd veilig en beskermd voel. Ma was altyd iewers naby.  Dié wete ‘n warm troos dwarsdeur my laerskooljare.  
Eensklaps gryp die besef van verbygaande tyd my vas. Wat ek sopas onthou het, voel soos gister. Toe Juffrou Carmie my later in die skoolsaal aan die jong mammas en pappas bekend stel, sê sy met oortuiging: “Dié tannie het jaaaaaaare gelede hier skoolgehou!”  Sy het nie geweet van die jaaaaaaaaaare gelede wat ek hier skoolgegààn het nie.
Nietemin, die kleingoed se praatjies is pragtig. Hul woordeskat fenomenaal. Genoeg selfvertroue. Hier en daar enetjie wat te sag gepraat het of te vinnig. Sekerlik ook maar vol senuwees en bewerasies. Dit is ‘n tameletjie vir ‘n klein mensie om voor ‘n saal vol grootmense te staan en redeneer. In ons dae het sulke dinge nie bestaan nie. Ons het niks geweet van woorde soos “hiperaktiwiteit, kommunikasie of www. mieliestronk. co.za” nie. Ek sit my en verluister.
Alles het verander. Tog bly ouers altyd ouers. Ek beloer hulle van agter af terwyl hul kosbaarste besittings praat. Liefde en omgee en betrokkenheid is oral te sien. Pryse word uitgedeel, gesiggies straal. Bekendes groet en kuier. Dis amper skemer toe ek huistoe ry.
Ek het vergeet om te kyk of ons voorletters nog op die ou plataanboom se stam staan, maar vandag het ek baie hartjies vol liefde beleef. Dankie daarvoor!
 
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...