Gewapen met
pen en inskrywingsvorm, ry ek skool toe. Oorkant die yslike, oeroue plataanbome langs
netjies opgeknapte asbesgeboue wat eens op ‘n tyd ‘n koshuis was, gebeur
dit.
Ek sit
tjoepstil in my kar en staar voor my uit terwyl die fliek in my kop begin draai.
My ma werk as sekretaresse in die skoolkantoor. Dit is 1956. Ek is in St. 1. My
ligbruin hare skuinspaadjie geborsel en met
‘n knippie vasgesteek. ‘n Draadheining en sementpaadjies, vaal wintergras en
wit ryp soggens vroeg. Later louwarm son
onder die groot bome, ‘n heerlike speelplek vir kinders. Ons krap ons
voorletters en dié van ons kammakastige kêrels uit op die wit boomstamme. E.G. loves J.d.V. of andersom. Netjies in ‘n
hartjie. Vir ewig en altyd. Ons oë en monde vol heerlike kindergeheime. Op ‘n dag sny ek my voet toe ons
wegkruipertjie speel. Hoekom het niemand
die sinkplate wat langs die gebou lê, weggevat nie? Ou dr. Roos doen knap
naaldwerk met drie steke. ‘n Yslike gebeurtenis vir ‘n dogtertjie wat altyd
veilig en beskermd voel. Ma was altyd iewers naby. Dié wete ‘n warm troos dwarsdeur my
laerskooljare.
Eensklaps gryp
die besef van verbygaande tyd my vas. Wat ek sopas onthou het, voel soos
gister. Toe Juffrou Carmie my later in die skoolsaal aan die jong mammas en
pappas bekend stel, sê sy met oortuiging: “Dié tannie het jaaaaaaare gelede
hier skoolgehou!” Sy het nie geweet van
die jaaaaaaaaaare gelede wat ek hier skoolgegààn het nie.
Nietemin,
die kleingoed se praatjies is pragtig. Hul woordeskat fenomenaal. Genoeg
selfvertroue. Hier en daar enetjie wat te sag gepraat het of te vinnig.
Sekerlik ook maar vol senuwees en bewerasies. Dit is ‘n tameletjie vir ‘n klein
mensie om voor ‘n saal vol grootmense te staan en redeneer. In ons dae het
sulke dinge nie bestaan nie. Ons het niks geweet van woorde soos
“hiperaktiwiteit, kommunikasie of www. mieliestronk. co.za” nie. Ek sit my en
verluister.
Alles het verander.
Tog bly ouers altyd ouers. Ek beloer hulle van agter af terwyl hul kosbaarste
besittings praat. Liefde en omgee en betrokkenheid is oral te sien. Pryse word
uitgedeel, gesiggies straal. Bekendes groet en kuier. Dis amper skemer toe ek
huistoe ry.
Ek het
vergeet om te kyk of ons voorletters nog op die ou plataanboom se stam staan,
maar vandag het ek baie hartjies vol liefde beleef. Dankie daarvoor!