Nà een-en-vyftig jaar
Dis Maandag, die begin van ‘n splinternuwe week. My foon
pieng. ‘n Vreemde nommer op whattsapp, ‘n vreemder gesig in die hoekie doer bo.
‘n Boodskap wat doekvoet naderkom, die ene vraagteken.
“Juffrou Elizabeth Kendall. Ek vat maar ‘n kans. Het jy op ‘n
tyd skoolgegee by Barberton Laerskool? Ek’s Kallie Versfeld, 57 jaar oud en is
seker jy het vir my skoolgegee in Gr. Een.”
Ek hét
skoolgegee ja. Op Barberton. 1969 en 1970.
“Onthou jy die seuntjie wat erg gehakkel het?”
vra hy. Ek dink en dink. Hy stuur ‘n klasfoto van toentertyd. Daar staan ek,
een-en-twintig jaar oud in my crimplene rokkie, bokant die knieë gesoom, kaal
arms, pure kind nog. In die tweede ry staan Kallie. Ek onthou sy kakieklere.
Was die ander seuntjies s’n almal grys? Ek dink so. Die dogtertjies het groen
katoenrokkies gedra.
Kallie
was ‘n stil kind. Ek kan nie sy hakkel onthou nie, maar sy groot, bruin oë wel.
Ek tel vyf-en-twintig kinders op die foto. ‘n Menssku mannetjie kan stil-stil
tussen so baie kinders wegraak. So weg dat ‘n Juffrou nà een-en-vyftig jaar nog
net die kindergesiggie onthou. Hoekom het sy klere anders as die ander s’n
gelyk wonder ek nou nà al die jare. ‘n Bietjie laat om nou te begin wonder.
Nietemin,
ons gesels en ruil nuus uit. ‘n Heerlike verrassing op ‘n doodgewone dag. Hy
bly naby die wildtuin. En sy Juffrou is juis so lief vir die bos en die diere. Ek
sal hom moet vertel. Ek nooi hom om te kom tee drink as hy eendag hierlangs sou
kom. Hy komplimenteer my oor my voorkoms en reken hy wil sommer weer begin
skoolgaan. Duidelik weet die man teen dié tyd hoe ‘n vrou se kop werk.
Die
lewe het sy draaie geloop. ‘n Netjiese man met ‘n blou hemp en denimbroek, ‘n
wit hoed op sy kop, breë skouers, ‘n snor en ‘n baardjie kyk uit die
profielfoto na my terug.
“Ek
wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe” kom ‘n Bybelwoord na my toe aan.
Kom ons
sing Kallie, kom ons sing. Tot eer van die Here. So lank as ons lewe.