28 December 2016

Ses-en-veertig jaar

Hoe lank is ses-en-veertig jaar? In ure, dae en maande gemeet is dit 'n bàie lang tyd. In onthou van wat toe gebeur het en hoe dit was, is dit soos gister. Kort. En vinnig verby. Amper 'n halwe eeu, eintlik net 'n oogwink.

Op 15 Des. 2016 kry ek 'n facebook-boodskap: "Hi, dis ekke , die klein Portugeuse seuntjie van 46 jaar terug my juffrou. Ek is so bly om te sien jy lyk nog goed en dis duidelik jy geniet die lewe."
Ek val amper net daar van my stoel af! Rui Cajada! Ek onthou hom sò goed. Ses-en-veertig jaar verdwyn soos 'n asempie voor die son. Ek staan wéér in my klaskamer in Laerskool Barberton. Jonk, lewensbly en vol energie. 1970, die tweede jaar van my lang onderwysloopbaan. 

En hy staan reg langs my met sy pikswart ogies en vriendelike gesiggie. 'n Leerling so nà 'n juffrou se hart. Fluks en slim, op en wakker. Ek gaan grawe die ou album uit en soek die klasfoto. Daar is nog 'n paar gesiggies wat ek onthou: Roelfie du Plooy, Koos Smith, (van wie se ma ek byna elke dag 'n briefie gekry het) Inus Dreyer, (wat in dieselfde kerk as sy juffrou was) Hannes Gates, Leon Strydom, (wat my een naweek met sy pa se bakkie wou huistoe neem) Marinda en Louisa Goss wat maatjies was, Matilda, Burger van den Berg, (by wie se ouers ek 'n paar maal tussen die hoë bome van die bosbou-plantasie gaan kuier het)  Paultjie.  (Louisa het hom "Pippel" genoem as sy hom aan die hand vat wanneer die huistoetydklok gelui het) Was daar ook 'n Gerrie en 'n Thomas en wie se van was McSeveney? Ai, as mens se geheue jou so in die steek begin laat.... 

 Nietemin, my Rui (spreek uit: Roei, soos in Louis)  het intussen 'n man geword, 'n pa van twee seuns en ek 'n ouma van vyf kleinkinders en ma van vier eie kinders, almal nou al grootmense. Hy woon nie te ver nie. Ons reël 'n kuiertjie by my huis. Hy vertel vir almal by sy werk hy gaan sy juffrou weer ontmoet. Ek vertel vir my kinders die mooi ware verhaal. Ons is opgewonde.

Die weerontmoeting maak ons harte warm en ruim. Hy stel my voor aan sy vrou, Annette. Ek kry sjokolade present. Ons gesels en gesels. Die lewe het hom goed behandel. My klein seuntjie het mooi gevorder, sy bes gedoen. Goeie werk, rustige mens. Omgeemens. My hart voel so bly. Want was dìt nie wat die jong juffrou van toentertyd in gedagte gehad het toe sy voor haar klas vol Gr. Eens gestaan het nie: dat hulle almal eendag suksesvol sal wees en 'n mooi lewe sal lei. En hier staan die bewys voor my oë.


Ek en Rui nà 46 jaar. Wat 'n voorreg. Wat 'n bevredigende gevoel om te weet hy het my kom opsoek, moeite gedoen, omgegee.  
 
 

 Annette en Rui.
 
Ons stap rondawel toe waar my kuns lê en wag om verkoop of uitgedeel te word. Hy kies vir hom 'n waterverf skildery. 'n Pad wat kronkel en draai oor groen heuwels. Soos ons lewens, soms opdraende, soms afdraende en baie keer net heerlik gelyk pad. Soos vandag.
 

9 June 2016

Nostalgies en nou

Ek ken haar en ek ken haar nie. Annelie van die Laerskool. Oulike juffrou. Sy bel my om te vra of ek op 8 Junie van dese jaar bereid sal wees om Gr. Eens, twees en dries te kom help beoordeel.  Dit is redenaartyd by die skool. “O jaaa!” dink ek onmiddellik, gedagtig aan die wonderlike tye toe ek self deel van die skool se “meublement” was. Dit behoort lekker te wees.

Gewapen met pen en inskrywingsvorm, ry ek skool toe.  Oorkant die yslike, oeroue plataanbome langs netjies opgeknapte asbesgeboue wat eens op ‘n tyd ‘n koshuis was, gebeur dit. 
Ek sit tjoepstil in my kar en staar voor my uit terwyl die fliek in my kop begin draai. My ma werk as sekretaresse in die skoolkantoor. Dit is 1956. Ek is in St. 1. My ligbruin hare  skuinspaadjie geborsel en met ‘n knippie vasgesteek. ‘n Draadheining en sementpaadjies, vaal wintergras en wit ryp soggens vroeg.  Later louwarm son onder die groot bome, ‘n heerlike speelplek vir kinders. Ons krap ons voorletters en dié van ons kammakastige kêrels uit op die wit boomstamme.  E.G. loves J.d.V. of andersom. Netjies in ‘n hartjie. Vir ewig en altyd. Ons oë en monde vol heerlike kindergeheime.  Op ‘n dag sny ek my voet toe ons wegkruipertjie speel.  Hoekom het niemand die sinkplate wat langs die gebou lê, weggevat nie? Ou dr. Roos doen knap naaldwerk met drie steke. ‘n Yslike gebeurtenis vir ‘n dogtertjie wat altyd veilig en beskermd voel. Ma was altyd iewers naby.  Dié wete ‘n warm troos dwarsdeur my laerskooljare.  
Eensklaps gryp die besef van verbygaande tyd my vas. Wat ek sopas onthou het, voel soos gister. Toe Juffrou Carmie my later in die skoolsaal aan die jong mammas en pappas bekend stel, sê sy met oortuiging: “Dié tannie het jaaaaaaare gelede hier skoolgehou!”  Sy het nie geweet van die jaaaaaaaaaare gelede wat ek hier skoolgegààn het nie.
Nietemin, die kleingoed se praatjies is pragtig. Hul woordeskat fenomenaal. Genoeg selfvertroue. Hier en daar enetjie wat te sag gepraat het of te vinnig. Sekerlik ook maar vol senuwees en bewerasies. Dit is ‘n tameletjie vir ‘n klein mensie om voor ‘n saal vol grootmense te staan en redeneer. In ons dae het sulke dinge nie bestaan nie. Ons het niks geweet van woorde soos “hiperaktiwiteit, kommunikasie of www. mieliestronk. co.za” nie. Ek sit my en verluister.
Alles het verander. Tog bly ouers altyd ouers. Ek beloer hulle van agter af terwyl hul kosbaarste besittings praat. Liefde en omgee en betrokkenheid is oral te sien. Pryse word uitgedeel, gesiggies straal. Bekendes groet en kuier. Dis amper skemer toe ek huistoe ry.
Ek het vergeet om te kyk of ons voorletters nog op die ou plataanboom se stam staan, maar vandag het ek baie hartjies vol liefde beleef. Dankie daarvoor!
 

25 August 2014

Vyf-en-veertig jaar later

"Ek is Gawie de Wet!" sê hy vriendelik en steek sy hand na my toe uit. Ons staan in Brooklyn Teater waar vier-en-vyftig van my skilderye uitgestal gaan word vir die volgende ses weke. (21  Aug. - 1 Okt. 2014) 
Vyf-en-veertig jaar verkrummel in een sekond en ek sien weer die skamerige Gr. een seuntjie uit my heel eerste Gr. Een-klas in Barberton. Ek was twintig jaar oud daardie jaar. Die hele wêreld het oop voor my gelê. Dit was die eerste keer dat ek regtig ver van die huis en my ouers af was. Toe was "ver" so 300 km. Ek onthou my Pa het skoon bewoë geraak toe ons die brief van die Transvaalse Onderwysdepartement ontvang waarin daar geskryf staan dat ek op Barberton aangestel is. "Nou gaan my doggie so ver weg wees..."


 Gawie de Wet: middelste ry, derde van links. Yzelle van den Berg, heel agter in die middel, die langste dogtertjie. 

Nietemin. Hier staan Gawie nou. 'n Volwasse man. My somme was nog nooit te waffers nie, maar ek reken hy moet so om en by 53 jaar oud wees. Hy het al die pad van Johannesburg af gekom om na sy Gr. Een-Juffrou se kunsuitstalling te kom kyk. Hoe wonderlik. En hy het nie net gekyk nie. Hy het ook 'n skildery gekoop. 


"'n Dag in die veld"- akriel op doek. 

"My Ma woon nog steeds in Barberton," sê hy,"sy stuur groete." 
Ek wikkel my toe in sy Ma se groete, in sy teenwoordigheid, in my herinneringe en in syne. Hoe kosbaar is die lewe nie! My aand is gemaak. Ek gee nie om of ek min of baie skilderye verkoop nie, ek voel skatryk in die teenwoordigheid van die spesiale gaste wat my vreugdes saam met my kom deel het. Yzelle is ook daar, 'n mooi jong vrou. Sy woon in dieselfde dorp as ek en ons het eens op 'n tyd saam kunslesse gehad by Riana Dippenaar. Op 'n dag vra sy my: "Het jy nie op Barberton skoolgehou nie?" "Ja, dis waar ek begin het!" antwoord ek toe. "Ek was in jou klas!" Dit was ook een van daardie wonder-oomblikke in die lewe. Dis juis as gevolg van haar verbintenis met Gawie op facebook, dat hy gekom het.  
Mag jou skildery veel vreugdes verskaf Gawie, mag jy elke dag die paadjie met ligte tred stap. Mag die waters rus verskaf as jy moeg voel. Mag die lug altyd helder en oop oor jou hang. As jy dalk alleen of eensaam voel, praat met die bome. Bome kan luister. Jy weet mos, jou Gr. Een juffrou het jou dit lank, lank terug geleer.  

3 March 2014

Kleur in hul lewe

Jare gelede het ek vir hierdie kinders skoolgehou. Hulle is almal vandag lank reeds grootmense. As ek na dié kleurvolle foto kyk, dan onthou ek nog so goed die vreugde wat ek en hulle ervaar het terwyl ons die kunswerk wat hulle so trots hier sit en vashou, gemaak het. Dit het ure geneem om klaar te maak. Nee, langer. Weke.

Dié kinders was in die Spesiale Klas en hul konsentrasievermoë beperk. My geduld moes eindeloos gewees het. Ek wonder of ek dit vandag sou kon regkry. Ek twyfel. Die Bybel sê nie verniet daar is 'n tyd vir alles onder die son nie!


Nietemin, elkeen van hulle was tjoepstil besig om sy eie kleurryke skepping daagliks nog 'n bietjie mooier te laat lyk. Ons het gewone pastelle gebruik en op lekker groot velle papier gewerk. Die seuntjie regs agter het baie beperkte sig gehad en nog 'n snarsie stadiger as sy klasmaats gewerk. Wanneer hy geteken of geskryf het, het hy die papier so naby as moontlik aan sy oë gehou.

Toe die prente klaar was, het hulle tamatiekisplankies geverf en hul eie rame daarvoor gemaak. Ek was so trots op my kinders! Voor in die middel sit Peet van wie ek al meermale stories op hierdie einste blog vertel het. 


Onnodig om te sê, kuns was ons almal se geliefkoosde vak en dit het nie net kleur aan die klaskamermure gegee nie, maar ook sommer aan ons lewens!

1 February 2014

Lank, lank gelede

Ek blaai deur ou foto-albums. Hoe vinnig het die jare nie verbygevlieg nie. Hoe baie water het daar  in die see geloop sedert hierdie heuglike dag! Dit was die jaar 1968 en ek het aan die einde van my driejaar-kursus aan Heidelberg en Pretoria se Onderwyskolleges onderskeidelik, gekom. Ek het 'n onderwysdiploma ontvang en op daardie stadium dalk gedink ek weet alles, min wetende wat alles wag! 


 My trotse ouers en ek, die Juffrou. 

 Hoe heerlik was dit om saam met my Ma op dieselfde personeel te kon wees. Sy was die sekretaresse by Laerskool Du Preez van Wyk in Bronkhorstspruit. Ons staan in die heel agterste ry. Dit was in 1972. Baie van die mense op dié foto is nie meer met ons nie.


Hier was ek 'n groepklas-Juffrou en het vir Graad twee en drie saam skoolgehou. Dit was by Tygerpoort Laerskool, duskant Pretoria. En ja, dit was die hele personeel! Dis hier waar ek en die Juffrou langs my die saal se agterste muur een jaar moes beskilder vir 'n konsert wat sou gebeur. Elke middag vir een hele week lank het ons soos kinders geverf, gespeel en geniet!

Ek dink daar was so 120 kinders op daardie stadium in die skool. Vandag bars dieselfde skool uit sy nate en is daar kwalik parkeerplek vir die ouers wat smiddae hul kinders kom oplaai. Meneer Booyens was toe die hoof en sy vrou die sekretaresse. Sy sit heelvoor regs. Dis by haar wat ek die heerlikste yskastert-resep gekry het. Ek het dit so baie maal gemaak toe my kinders nog in die huis was.  Jy kan gerus ook probeer, so maklik soos... 'n yskastert! En heerlik!
                                                               Piesang-en jellietert
Een gaar tertkors (Fyngedrukte Tennisbeskuitjies met botter gemeng werk die beste!) 
Eertse laag: piesangs
Tweede laag: een blik gekookte kondensmelk (kook  vir een en 'n halwe uur. Deesdae KOOP mens dit!) 
Derde laag; Een pakkie suurlemoenjellie amper gestol, bo-oor alles, bedek piesangs anders word hulle swart. Versier met room en kersies.


Ek tel 39 kinders hier. Ek twyfel of ek dit vandag sou kon behartig...maar toe was dit kinderspeletjies en het ek elke oomblik daarvan geniet! Kyk die lekker kort rompie wat die Juffrou aanhet! Ai, waar is die dae. Op 'n dag vra ek die kinders wat sal hulle eerste inpak as hulle met vakansie sou gaan. Onmiddellik antwoord Koos: "'n Broodmethth Juffrou!" Hulle was arm en 'n sny brood was vir hom lewensnoodsaaklik. Al die ander het dinge soos sonroom, swemklere, branderplanke ens. genoem.

(Sou jy jouself op hierdie foto herken, laat weet my waar jy vandag is asb. ? Julle was almal lieflike kinders! ) 

13 January 2014

Umzimkulu

Dit was die jaar 1976. Ons het by Bizweni Gevangenisplaas gewoon naby die dorpie Umzimkulu. Umzimkulu is agtien km. suid-wes van Ixopo en ongeveer 250 km. noord-oos van Umtata in KwaZulu Natal.

My eersteling was toe twee jaar oud. Laerskool Umzimkulu was 'n klein skooltjie met 'n leerlingtal van ongeveer veertig kinders. Die skoolhoof se naam was Mnr. A.J. van Rijn en wat ek van hom onthou, is dat hy baie lief vir sweiswerk was. Hy het ook graag met 'n lieflike, duur vulpen geskryf en het die mooiste handskrif denkbaar gehad.

Dit was 'n dubbelmedium-skool en daar was omtrent ewe veel Afrikaans- as Engelssprekende kinders. Mnr. van Rijn het elke tweede Maandag dus sy opening in Engels waargeneem. Was dit toe dat ek vir die eerste maal in my lewe gehoor het presies hoe mooi  Bybelwoorde in Engels klink?

Psalm 139
 O Lord, thou hast searched me, and known me.
 Thou knowest my downsitting and mine uprising, thou understandest my thought afar off.
 Thou compassest my path and my lying down, and art acquainted with all my ways.
 For there is not a word in my tongue, but, lo, O Lord, thou knowest it altogether.

Ek wou nie regtig op daardie stadium van my lewe skoolhou nie. Ek wou net Ma- en vrouwees, want alles was nog so nuut en opwindend. Toe een van die permanente onderwysers egter met kraamverlof moes gaan, was daar nood en het die hoof my gevra of ek nie kans sien om te kom "uithelp" nie. Dit was 'n klein dorpie en onderwysers so skaars soos hoendertande. Ek het ingewillig. My kleuterkind kon saamkom.
Op 'n stadium het die hoof bedank of afgetree en het baie kinders ook die skool verlaat. Ek en agt kleingoed het oorgebly. Hoe heerlik! Net agt leerlinge in my klas in verskillende Grade en tale en een kleinding van my eie. Ek was toe sommer die hoof, die Juffrou, die sekretaresse en die "tealady", alles in een.

Elke dag van half agt tot een uur sou ons klompie die lewe en sy uitdagings aanpak. En dit was wonderlik. Ons skoolgebou was onder groot bome en nooit het onsonveilig gevoel nie. Ek het soggens een vir een kind gevat en sy werkies met hom gedoen en gehelp, óf in Afrikaans, óf in Engels. Terwyl ek besig was met een of twee in Gr. Een, het dié wat in ander Grade was rustig gelees of geteken totdat dit hulle beurt was om uitsoek-aandag te kry. Intussen het my eie Rooikoppie sit en blokkies speel of krabbels met vetkryt geteken. Soms was die pouses sommer ook langer as gewoonlik en het die klok gelui net wanneer hy wil. Of wanneer ons wil.


Die seuntjie derde van links in die agterste ry se naam was John Havemann. Hy was baie intelligent. Suiwer Engels van bo tot onder. Op daardie stadium was my Engelse woordeskat maar beperk, komende van die goeie ou Transvaal. Ek het vinnig geleer as 'n mens nie Engels of Zulu in Natal praat nie, dan praat jy nie. Dit was John wat my ook geleer het dat 'n bourekenaar 'n "Quantity surveyor " in Engels is, want sien, sy Pa was een. Ek onthou dit tot vandag toe nog. 'n Onderwyser leer dikwels ook baie by kinders.


Die seuntjie heel regs agter se naam was Terry Hobson. Hy het pouses sy kosblik oopgemaak en gereeld vir my 'n stukkie van sy heerlike "Banana loaf" wat sy Ma gebak het, aangebied. Ek moet nog die resep iewers tussen my bêregoed hê.  Dit was watertand-lekker! 
Op 'n dag loop daar 'n kat by ons klaskamer verby. "Puuuusssss ! Puuuusssss!" roep Terry haar in Engels.

Dit was vreedsame dae propvol onskuld en eenvoud. Aan die einde van daardie jaar is die Gevangenisplaas aan die Transkei oorhandig en het die klein skooltjie ook toegemaak. Ons het na Ixopo verhuis en die kinders het elk 'n ander heenkome gevind. Ons almal was maar hartseer om te groet, want ons het geweet daar sou nooit weer presies sò 'n skool op aarde wees nie.

30 December 2013

‘n Juffrou onthou

Speeltyd was ook eettyd. Dan het Burger van den Berg, ‘n fris seuntjie met ronde boudjies en blouselblou oë, verby my tafel geloop, sy rooiwangappel voor my neergesit en vertroulik gesê: “Ek gee vir jou ‘n appel hoor!”  Die kyk in sy groot, blou oë het baie lekkerder as die appel geproe....en die appel wàs heerlik.

“Is dié ook pakgeeboekies Juffrou?” vra Casper kinderlik onskuldig toe ek nuwe boekies uitdeel. Dit was nog in die
goeie ou dae.

Ons lees “Little Jack Horner” en ek vertel van die seuntjie wat sy vinger in die “pie” gedruk het en voeg prekerig by dat dit nie juis goeie maniere is nie.
“Dis oor dit ‘n Engelsman is, Afrikaners maak nie so nie!” sê die slimme Andrew McSeveney met sy Engelse naam en van.

Een oggend roep Herman:”Juffrou, ek het Juffrou by die tolhek gesien!” Dit was toe eintlik by die padpatrollie.

“Hier kom Oom Balans!” Dit was die skoolhoof, Meneer Terblance.

“Hoekom wou Naäman nie in die Jordaanrivier gaan was nie?” vra ek een oggend tydens ‘n Bybelles. Blitsvinnig antwoord Francois: “Hy was bang hy kry bilharzia!”

Die einde van die jaar was ‘n woelige tyd. Dis uitstallings en dis puntestate en dis bevorderingstate en dis prysuitdeling en dis Barberton en dis WARM. Op die laaste dag is Juffrou se tafel toe onder die presente en mooi briefies van kinders en waarderende ouers. Hoe heerlik!

 

Ek kan kwalik glo dat dié foto drie-en-veertig jaar gelede geneem is. Dit voel soos gister.  Rui Cajada, 'n Portugeuse seuntjie, staan langs my. Hy het pikswart ogies nes korinte gehad en het sy "s'e" as "z" uitgespreek. "Izzz my werk mooi?"
Heel voor links sit Burger. Ek is dikwels naweke uitgenooi om by hom en sy ouers op die plaas te gaan kuier. Sy Pa was 'n bosbouer en dit was heerlik om met die kronkelpaaie deur die baie denneplantasies te ry.
Paultjie, wat regs voor sit, is "Pippel" genoem deur een van sy dogtertjiemaatjies, Louisa Goss. (eerste ry van voor, blonde derde dingetjie)
 Koos, Roelfie, Gerrie, Inus, Thomas, Riana, Marinda en Matilda.... waar is julle vandag, drie-en-veertig jaar later? Ek wens ek het geweet.  
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...