5 October 2021

 

Nà een-en-vyftig jaar

Dis Maandag, die begin van ‘n splinternuwe week. My foon pieng. ‘n Vreemde nommer op whattsapp, ‘n vreemder gesig in die hoekie doer bo. ‘n Boodskap wat doekvoet naderkom, die ene vraagteken.  

“Juffrou Elizabeth Kendall. Ek vat maar ‘n kans. Het jy op ‘n tyd skoolgegee by Barberton Laerskool? Ek’s Kallie Versfeld, 57 jaar oud en is seker jy het vir my skoolgegee in Gr. Een.”

Ek hét skoolgegee ja. Op Barberton. 1969 en 1970.

 “Onthou jy die seuntjie wat erg gehakkel het?” vra hy. Ek dink en dink. Hy stuur ‘n klasfoto van toentertyd. Daar staan ek, een-en-twintig jaar oud in my crimplene rokkie, bokant die knieë gesoom, kaal arms, pure kind nog. In die tweede ry staan Kallie. Ek onthou sy kakieklere. Was die ander seuntjies s’n almal grys? Ek dink so. Die dogtertjies het groen katoenrokkies gedra.

Kallie was ‘n stil kind. Ek kan nie sy hakkel onthou nie, maar sy groot, bruin oë wel. Ek tel vyf-en-twintig kinders op die foto. ‘n Menssku mannetjie kan stil-stil tussen so baie kinders wegraak. So weg dat ‘n Juffrou nà een-en-vyftig jaar nog net die kindergesiggie onthou. Hoekom het sy klere anders as die ander s’n gelyk wonder ek nou nà al die jare. ‘n Bietjie laat om nou te begin wonder.

Nietemin, ons gesels en ruil nuus uit. ‘n Heerlike verrassing op ‘n doodgewone dag. Hy bly naby die wildtuin. En sy Juffrou is juis so lief vir die bos en die diere. Ek sal hom moet vertel. Ek nooi hom om te kom tee drink as hy eendag hierlangs sou kom. Hy komplimenteer my oor my voorkoms en reken hy wil sommer weer begin skoolgaan. Duidelik weet die man teen dié tyd hoe ‘n vrou se kop werk.

Die lewe het sy draaie geloop. ‘n Netjiese man met ‘n blou hemp en denimbroek, ‘n wit hoed op sy kop, breë skouers, ‘n snor en ‘n baardjie kyk uit die profielfoto na my terug.

“Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe” kom ‘n Bybelwoord na my toe aan.

Kom ons sing Kallie, kom ons sing. Tot eer van die Here. So lank as ons lewe.



 

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...