7 December 2013

My skoenlys is los


Sy oë is groot en grysgroen en sy handjies moedeloos gevroetel aan die skoenveter. Nuwe skoolskoene, nuwe skooldrag, nuwe klein, bruin tassie-met-‘n-kosblik-in. Om hom nuwe kinders en voor hom ‘n vreemde tannie wat hy “Juffrou” moet noem.

Alles is nuut. Nuut en vreeslik vreemd. Dis sy eerste dag in Graad Een. Onder, onder aan die lang leer met die baie trappies wat hy nog moet klim. En hy sal dit klim. Hy sal dit klim met sy nuwe skoene, al is sy veter los.

Só het my eerste dag van skoolhou begin. Saam met die grysgroen oë was daar nog nege-en-twintig pare oë wat my vraend, onseker en wanneer-kom-my-ma aangekyk het. Ek het hulle net daar liefgekry. Ek het nie geweet waar hulle woon of wie hulle is nie. Ek was hulle Juffrou en hulle was my heel eerste leerlinge.

In die kinderoë voor my het ek iets gesien wat ek nog nie voorheen beleef het nie. Afhanklikheid. Die meisietjie wat drie jaar op kollege was om te leer van kinders en van skoolhou het meteens besef: “Ek weet niks!”

Ek het by die tafel gaan sit, hulle name gevra. Iemand het ‘n grondboontjiebotterbroodjie vir my daar neergesit. Ek het sommer skielik na my Ma se kombuis verlang. Daar waar ek 'n kind was.

Op die papier voor my het nuwe name geskryf gestaan:
Bezuidenhoudt, Barend
Botha, Aletta
Jacobs, Marinda
....en nog ‘n string name, dertig klein mensies.
Die klok het gelui.

Ek het dan nog niks gedoen nie. Die blou stoeltjies het gedreun en die kleingoed het deur toe gebondel. Dis speeltyd. Juffrou het so gesê.

Die klaskamersleutel het alreeds in die slot gedraai en ek was op pad personeelkamer toe, toe ‘n blou-oog dogtertjie voor my kom staan: “Reefrou, hier’s vi’ Reefrou ‘n vetkoek!” Ek het dit dankbaar by haar gevat en die stroop tussen my vingers afgelek.

Terug in die klas het ons klei gespeel en ek het bietjie meer van hulle te wete gekom: Barend het groot, bruin oë. Aletta loer soos ‘n oumensie deur haar dik brilglase. Kobus se hare krul en Frederik het bloedrooi appelwange. Yzel was die langste in die klas, ‘n skamerige, donkerkoppie met ‘n sagte glimlag. En natuurlik Frans. Frans met die los veter. Teen dié tyd was sy skoenveter stewig vasgestrik, maar sy grysgroen oë wou my nie los nie. Ek het met my hand oor sy ligbruin hare gestreel en êrens vandaan ‘n dosent se stem hoor sê: “Julle mag nooit witbroodjies hê nie.” Hulle het niks gesê van ligstrale nie, het hulle?

Toe die klok lui vir die kleintjies om “uit te kom”, het hulle nie gebondel nie, maar ewe netjies ‘n treintjie gemaak en “toet-toet” huistoe gestoom, doodgelukkig. Ek het hulle agterna gekyk, my tas gevat en aangestap koshuis toe waar al ons nuwes loseer het. Die eerste dag was verby.

My hand het gebewe toe ek die kamerdeur se knop raakvat. Langs my bed het ‘n pot vol kleurvolle blomme gestaan. Skielik was daar ‘n knop in my keel en trane in my oë.
“Welkom by ons Juffrou,” het op die kaartjie gestaan.

Die koshuisbed het gekraak toe ek daarop gaan sit. In my hart was daar ‘n vreemde lekker. Nou is ek ‘n grootmens. Onafhanklik. Opgewonde oor dit wat wag.

In my in my gedagtes het ek dertig paar ogies gesien. Dertig gesiggies vol afwagting. In die gang het iemand luidkeels gelag, die etensklok het gelui en ‘n motor het in die straat verbygedreun.
“Ek is ‘n Juffrou!”

Of was ek toe maar nog net ‘n “Reefrou?”

4 comments:

  1. Geniet hierdie stories van mamma so... Sexy Reefrou gewees ne... ;-)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ag lekkerte!! So bly my seuna het kom lees, hier gaan nog hope stories vasgeplak word. En baie dankie vir die kompliment! Pure kind gewees nog. xxx

      Delete
  2. Ek het dit ook vreeslik geniet Liz, en jou liefde vir die dertig gesiggies gevoel, asook die onsekerheid van die jong Juffrou op haar eerste dag en toe die vreemde lekker van 'n suksesvolle eerste dag. Min het jy geweet van die lief en leed wat nog voorlê, ne?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Min Maree, min!! Baie dankie vir jou mooi kommentaar!

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...