10 December 2013

Om Juffrou te wees.




Dit moet in 'n mens se bloed wees: die vreugde van onderrig gee. Die bevrediging en algehele lekkerte van te weet hoe om iemand anders te kan leer, te kan help, aan te hou probeer tot hy verstaan.

Soms is dié verstaanproses blitsvinnig en natuurlik gee dit vir enige onderwyser die grootste lekkerkry. Soms is dit stadig, maar op ‘n dag blom die droë woestynplantjie wel en dan is die blydskap soveel groter.

Saam met die leerproses loop die leer-mekaar-ken. Kind en onderwyser, onderwyser en kind. Leer mekaar se maniere, mekaar se streke, mekaar se lief en leed, groot stukke van mekaar se lewe. Soms groei mens só vas aan die kinders in jou klas en onthou jy hulle vir jare en jare daarna.

Vir hulle sal jy altyd maar “Juffrou” bly. Êrens op ‘n dag kom staan ‘n volwasse, mooie man met lagplooitjies langs sy oë en om sy mondhoeke voor jou en vra met ‘n diep stem: “Onthou Juffrou my nog?” Natuurlik sal jy hom onthou. Hy was dan die punt van jou hart in die beginjare van skoolgee.

Sou jy tussen ander nasies en tale beland, is die aanpassing groter, die leer-mekaar-ken baie tydsamer, wyer. L a n g s a m e r h a n d . Tòg is en bly kinders maar kinders. Of jy nou hul “Juffrou” of hul “Mêm” is. Die oordra van kennis bly ‘n onuitputlike bron van vreugde, want daar is sò baie om te leer. Die wêreld is nuut, oop en so vreeslik lekker.

Elke dag verander in ’n begeleide toer aan die hand van die onderwyser wat voor so ‘n klas kom staan. Elke dag word ‘n splinternuwe reis na nuwe ontdekkings.

Dis nie net leer hoe om ‘n ordentlike nege of agt of sewe te maak nie. Dis leer van omgee, van respek, van maniere. Dis leer om mens te wees. Dis ook nie net die onderwyser wat die kind leer nie. Dit is baie dikwels ook andersom.

Die dae is te kort en die ure vlieg vinnig verby, want alles, ja alles wat ons doen is splinternuut en wonderlik-lekker veral as ons eers besef waaroor dit werklik gaan.

Mag almal wat onderrig gee steeds vreugde put uit dié dinge waaroor mens nie vergaderings hoef by te woon of notules en verslae hoef te skryf of boek oor te hou nie. Dié ding wat ons doodgewoon maar net liefde noem.

2 comments:

  1. Ek het dit nog altyd gesê, dit vat 'n baie spesiale persoon om juffrou te wees, dit sit nie in elkeen se broek nie!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Waardeer jou inloer hier Maree. Baie dankie.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...