8 December 2013

Baie spesiaal

 

Iewers tussen al die jare van skoolhou deur, moes ek op 'n keer of meer vir die Spesiale Klas skoolhou. Eindelose geduld en emmers vol liefde was daagliks nodig om dié kinders te help, te leer en te lei. Tóg het die Juffrou ook baie by hulle geleer. Aanvaarding was verseker bo-aan die lys.

"Juffrou, k…k…kan juffrou, Juffrou se ore beweeg?" vra 'n elfjarige blou-oogseunskind my op 'n dag en hy demonstreer dié ongewone vaardigheid met groot selfvertroue. Sy mond is vuil en skurf van die koue winterlug en van verwaarlosing.

Nà 'n pouse en 'n draai by die Snoepie steek hy sy tong ver uit, potblou van 'n suiglekker wat hy gekoop het: "Juffrou, k…k… kan ek my mond gaan was?" Toe hy terugkom, kom staan hy voor my, steek sy tong weer so ver as moontlik uit: "Juffrou, k..k…kyk nou, dis nou skoon!"

"Juffrou, wat is die vinnigste ding in die wêreld?"
"Weet nie?"
"'n Poep, Juffrou, want hy gaan dwarsdeur jou broek sonder om 'n gaatjie te maak!"


Hulle was sonder enige pretensie, sonder skroom en inhibisies. Hulle was ook baie ontvanklik vir allerlei invloede. As 'n Juffrou haastig is in so 'n klas, soek sy groot moeilikheid.

Soggens het ons saam gebid dat ons geduld moes hê vir elke dag. Aan die einde van 'n skooldag (wat soms eindeloos gevoel het), het ons dankbaar gebid vir die vreugde van huistoegaan. Hulle was bly dat hulle uit die benoudheid van vier mure kon ontsnap en ek was heeltemal leeggetap.

Met vuil hande en skoene wat bo in bome vassit en taai monde het hulle my nà 'n pouse ingewag. As die hande gewas is en die mondjies weer skoon was en ek na 'n redelike tyd dit kon regkry om hulle tot bedaring te bring, het ek uiters suksesvol gevoel. Net om weer amper moedeloos te raak as een van hulle sy werk so vinnig aframmel as wat hy kan, slordig en sonder sorg, traak-my-nie-agtig sy boek voor my swaai en jubelend aankondig: "Ek is tog eerste klaa-aar!"

Aan die einde van die jaar was ander Juffrouens se tafels oorlaai met geskenke. Die Juffrou van die Spesiale Klas het ander soort geskenke gekry. Toegedraai in bruin papier, 'n horlosie wat nie meer werk nie, 'n blink borsspeld wat duidelik uit hul ma se laai gegaps is of 'n toebroodjie met "sênwichs-sprêd" op. As jy baie gelukkig is, 'n pen wat by die "faaiv-rênd-sjop" gekoop is. Alles moes Juffrou ewe bly maak en sy het baie mooi dankie gesê. Haar ware geskenke was die blink oë en afwagting op die gesiggies voor haar terwyl sy die pakkies oopgemaak het.

Die weerloosheid van hierdie kinders het my elke dag klein laat voel. Hulle was afhanklik van elke bietjie liefde en aandag. Vir my was hulle opregtheid genoeg. Deur die genade het ek elke dag êrens vandaan krag en entoesiasme gekry om ook hulle wêreld 'n beter plek te probeer maak.

"Kom ons maak ons klas mooi en verf bietjie vandag," het ek op 'n windvaal oggend aangekondig toe alles net weer wil-wil lyk na doodgaan-tussen-die-distels.
"Jippppieieie! Juffrou is lekker! Juffrou is die lekkerste Juffrou!" gil hulle dit uit, lewensbly.

En as ons aan die einde van die dag blougestreep en rooigekol huis toe gaan en die volgende dag wéér worstel met ag-ek-kan-nie-verstaan-deelsomme en hoofletters en spelfoute, dan loer ons maar kort-kort na ons kleurvolle skeppings wat ons self geverf het teen die klaskamermuur.

Die wete dat daar êrens 'n plekkie in die son vir elkeen van hulle vorentoe wag, want Juffrou sê mos so, was hul grootste troos op aarde.

No comments:

Post a Comment

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...