5 December 2013

Janneman se verjaarsdag




Te midde van vele gebeurtenisse en woelinge, moontlike pakkette, opvoed en grootkry van eie vier uiteenlopende kinders, kopkrap oor finansies, Graad Eens wat leer lees en vele ander baie belangrike bedrywighede, het 'n groen ge"aaisiengde" trein op 'n dag my lewe binnegestoom en my tot stilstand geruk.

Die trein se vensters was van toffies, wit wattarook het by sy skoorsteen uitgejubel, sy wiele was ronde koekies. Daar was drie trokke en 'n enjin. Die wiele is met silwerblink foeliestawe aanmekaar gehou. Helderkleurige "smarties" en "hundreds-and- thousands" was oral op die groen versiersuiker vasgedruk.

Op sy foeliebord-platform by 'n vrolike stasie met die naam van "Geluk" het die trein 'n rukkie in Graad Een B se midde kom staan en elke Graad Eentjie se bewondering afgedwing:
"Juffrou, kyk sy wiele!"
"Kyk die kole! Rooi kole! Brand dit?"
"Oe, dis baie, baie moooooooi!" het hulle mondwaterend, lipaflekkend, bewonderend uitgeroep en om die verjaarsdagtrein op die stoep saamgebondel, waar ek dit op 'n lae tafeltjie staangemaak het.

En onse witkop Janneman het gestraal want dit was SY trein wat SY ma gebring het vir SY verjaarsdag.

Hy het die sewe kersies met één blaas doodgeblaas terwyl "Veels geluk liewe maatjie" vol ingehoue, wriemelende afwagting en elkeen-op-sy-eie-noot gesing is.

Toe het hulle 'n ry gemaak en ek het 'n dik skyf koek in elke handjie gesit. Daar was immers drie trokke EN 'n enjin. Lekkerrr taai, lekkerrr soet en groengekrummel het hulle stroopsoet anderkant uitgekom. As hulle die rook óók kon opeet, sou hulle seker.

Jacques, wat in die koshuis was, het baljaar tussen die groen krummels en die versiersuiker wat op die hardbordstasie agtergebly het. Hoekom klink "aaisieng" dan tog 'n lekseltjie lekkerder?

Behalwe vir dié heerlike Groen Trein, was daar vir elke kind ook nog 'n vierkantige kartondosie met 'n potlood-vol-prentjies bo-op en binne-in: springmielies, koekies en lekkers. Stroopsoet het ons op dié dag geword en stroopsoet het ons huis toe gegaan.

Die opregtheid en moeite van sy mamma het my by die Groen Trein laat halt roep.
 'n Blinkoog, witkop Graad Een seuntjie, goue oomblikke van borrelende blydskap, opgewonde maatjies om dié vreugde mee te deel. Dankie vir dìt wat jy in ons klas ingebring het, Groen Aaisieng Trein, dit wat mens nie regtig in woorde kan sê nie, dit wat iets beteken het te midde van duisende worstelinge en woelinge, inkomstebelastingvorms en bankstate en 'n klas vol Graad Eens wat singstem leer lees: “Dit is Pofmuis. Pofmuis soek 'n huis."

2 comments:

  1. Jy beskryf die menswees van kinders so mooi Liz, hulle blydskap en smarte, die klein dingetjies wat hulle onthou en beïnvloed, wonderlike leesstof!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie, ek is bly jy het dit so geniet Maree. Ek sal dié dinge sekerlik nooit vergeet nie.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...