17 December 2013

Racheltjie de Beer


Foto vanaf Mieliestronk

Sy was deel van die Graad Een sillabus en ons moes dié geskiedenis so lewensgetrou as moontlik oordra. Dit was aan die beginjare van skoolhou. Ek was vol ywer en baie entoesiasties. Storievertel was een van my gunsteling bedrywighede. Om dié ware verhaal met smaak oor te dra, was dus pure genot.

‘n Klas vol Graad Eens het voor my gesit, al luisterende. Ek het hulle volle aandag gehad. Klasatmosfeer sou ‘n gawe punt by enige dosent kon verdien met dié les.

Ernstig en oortuigend het ek vertel van die dapper dogtertjie wat in die sneeu verdwaal het terwyl sy en haar boetie help skapies soek het.  Hoe ysig koud dit was en hoe alleen sy gevoel het in ‘n sneeubedekte, spierwit wêreld waar alles dieselfde lyk.  Hoe sy en Kleinboet onbewustelik al in die rondte gedwaal het, al kouer en kouer geword het. Naderhand half verkluim skuiling gaan soek het in ‘n uitgeholde miershoop op die sneeuwit veld.

Toe ek by dié deel kom waar Racheltjie haar kleertjies uittrek om haar boetie daarmee warmer te laat voel, het ‘n paar dogtertjies voor my begin snik en traantjies afvee.  Ek het voortborduur, myself ook in die hartseer ingepraat.  Geheel en al ingeleef in dié ware verhaal van jare gelede.

Die ergste het nog voorgelê. Met boetie toegewikkel in sussie se klere en sussie bibberend teen hom aan, die tweetjies alléén in die koue, donker nag en ‘n Pappa wat met die hulp van ‘n paar werkers vergeefs by lanternlig soek en soek na sy kinders, was feitlik my hele Graad Een-klas in trane.  Juffrou moes maar deurdruk en vasbyt. ‘n Mens kon ‘n speld hoor val in die klas. Bewegingloos het hulle voor my gesit, angstig wagtende om te hoor wat verder gebeur het.

Op daardie oomblik (waarom juis toe?) het my oog op ‘n tingerige seuntjie voor my geval. Hy was nie een van die knapste knapies in my kudde nie, inteendeel. Behalwe vir sy verstandelike agterstand, was hy ook maar baie armoedig gekleed. Op dié geskiedkundige dag het Andries bv. nie ‘n onderbroek aangehad nie.

So met my roerende vertelling saam, kyk ek af en merk dit op. Die onderbroek ontbreek.  Ek stoei voort met die hartseerste deel van Rachel-in-die-sneeu. Andries se dun, opgetrekte beentjies, die nog dunner armpies styf om sy kniekoppe vasgeklem, sy bleek gesiggie die ene konsentrasie reg voor my in afwagting.

Sy oë was groot en vol trane, sy ou mondjie halfpad oop en die onderlip onbeheersd aan’t bewe.  By sy broekspyp uit hang die dunste en slapste klein tottermannetjie wat ek in my hele lewe gesien het. 'n Bleekpienk erdwurmpie.  Saam met die bewende onderlip maak dit ‘n droewige prentjie wat ek vir ewig sou onthou.

Verseker was dit dié tydstip in my ganse skoolhoulewe waarop dit die moeilikste was om NIE te lag nie.

Met die allergrootste selfbeheersing het ek aangegaan tot daar waar Rachel as ‘n volk se heldin, ‘n voorbeeld van dapperheid en naasteliefde kon voorleef in my Graad Eens se gedagtes. ‘n Verhaal om altyd te onthou en eendag aan hul kinders te vertel.

Dat hul Juffrou dié dag om ‘n heeltemal ander rede sou onthou, het hulle gelukkig nooit geweet nie. 

4 comments:

  1. Soooo spesiaal!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Petri, lekker om jou hier te sien. x

      Delete
  2. Spesiaal EN hartseer! Ag toggie, net sowel niemand weet die rede vir dié onthou nie!

    ReplyDelete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...