25 August 2014

Vyf-en-veertig jaar later

"Ek is Gawie de Wet!" sê hy vriendelik en steek sy hand na my toe uit. Ons staan in Brooklyn Teater waar vier-en-vyftig van my skilderye uitgestal gaan word vir die volgende ses weke. (21  Aug. - 1 Okt. 2014) 
Vyf-en-veertig jaar verkrummel in een sekond en ek sien weer die skamerige Gr. een seuntjie uit my heel eerste Gr. Een-klas in Barberton. Ek was twintig jaar oud daardie jaar. Die hele wêreld het oop voor my gelê. Dit was die eerste keer dat ek regtig ver van die huis en my ouers af was. Toe was "ver" so 300 km. Ek onthou my Pa het skoon bewoë geraak toe ons die brief van die Transvaalse Onderwysdepartement ontvang waarin daar geskryf staan dat ek op Barberton aangestel is. "Nou gaan my doggie so ver weg wees..."


 Gawie de Wet: middelste ry, derde van links. Yzelle van den Berg, heel agter in die middel, die langste dogtertjie. 

Nietemin. Hier staan Gawie nou. 'n Volwasse man. My somme was nog nooit te waffers nie, maar ek reken hy moet so om en by 53 jaar oud wees. Hy het al die pad van Johannesburg af gekom om na sy Gr. Een-Juffrou se kunsuitstalling te kom kyk. Hoe wonderlik. En hy het nie net gekyk nie. Hy het ook 'n skildery gekoop. 


"'n Dag in die veld"- akriel op doek. 

"My Ma woon nog steeds in Barberton," sê hy,"sy stuur groete." 
Ek wikkel my toe in sy Ma se groete, in sy teenwoordigheid, in my herinneringe en in syne. Hoe kosbaar is die lewe nie! My aand is gemaak. Ek gee nie om of ek min of baie skilderye verkoop nie, ek voel skatryk in die teenwoordigheid van die spesiale gaste wat my vreugdes saam met my kom deel het. Yzelle is ook daar, 'n mooi jong vrou. Sy woon in dieselfde dorp as ek en ons het eens op 'n tyd saam kunslesse gehad by Riana Dippenaar. Op 'n dag vra sy my: "Het jy nie op Barberton skoolgehou nie?" "Ja, dis waar ek begin het!" antwoord ek toe. "Ek was in jou klas!" Dit was ook een van daardie wonder-oomblikke in die lewe. Dis juis as gevolg van haar verbintenis met Gawie op facebook, dat hy gekom het.  
Mag jou skildery veel vreugdes verskaf Gawie, mag jy elke dag die paadjie met ligte tred stap. Mag die waters rus verskaf as jy moeg voel. Mag die lug altyd helder en oop oor jou hang. As jy dalk alleen of eensaam voel, praat met die bome. Bome kan luister. Jy weet mos, jou Gr. Een juffrou het jou dit lank, lank terug geleer.  

3 March 2014

Kleur in hul lewe

Jare gelede het ek vir hierdie kinders skoolgehou. Hulle is almal vandag lank reeds grootmense. As ek na dié kleurvolle foto kyk, dan onthou ek nog so goed die vreugde wat ek en hulle ervaar het terwyl ons die kunswerk wat hulle so trots hier sit en vashou, gemaak het. Dit het ure geneem om klaar te maak. Nee, langer. Weke.

Dié kinders was in die Spesiale Klas en hul konsentrasievermoë beperk. My geduld moes eindeloos gewees het. Ek wonder of ek dit vandag sou kon regkry. Ek twyfel. Die Bybel sê nie verniet daar is 'n tyd vir alles onder die son nie!


Nietemin, elkeen van hulle was tjoepstil besig om sy eie kleurryke skepping daagliks nog 'n bietjie mooier te laat lyk. Ons het gewone pastelle gebruik en op lekker groot velle papier gewerk. Die seuntjie regs agter het baie beperkte sig gehad en nog 'n snarsie stadiger as sy klasmaats gewerk. Wanneer hy geteken of geskryf het, het hy die papier so naby as moontlik aan sy oë gehou.

Toe die prente klaar was, het hulle tamatiekisplankies geverf en hul eie rame daarvoor gemaak. Ek was so trots op my kinders! Voor in die middel sit Peet van wie ek al meermale stories op hierdie einste blog vertel het. 


Onnodig om te sê, kuns was ons almal se geliefkoosde vak en dit het nie net kleur aan die klaskamermure gegee nie, maar ook sommer aan ons lewens!

1 February 2014

Lank, lank gelede

Ek blaai deur ou foto-albums. Hoe vinnig het die jare nie verbygevlieg nie. Hoe baie water het daar  in die see geloop sedert hierdie heuglike dag! Dit was die jaar 1968 en ek het aan die einde van my driejaar-kursus aan Heidelberg en Pretoria se Onderwyskolleges onderskeidelik, gekom. Ek het 'n onderwysdiploma ontvang en op daardie stadium dalk gedink ek weet alles, min wetende wat alles wag! 


 My trotse ouers en ek, die Juffrou. 

 Hoe heerlik was dit om saam met my Ma op dieselfde personeel te kon wees. Sy was die sekretaresse by Laerskool Du Preez van Wyk in Bronkhorstspruit. Ons staan in die heel agterste ry. Dit was in 1972. Baie van die mense op dié foto is nie meer met ons nie.


Hier was ek 'n groepklas-Juffrou en het vir Graad twee en drie saam skoolgehou. Dit was by Tygerpoort Laerskool, duskant Pretoria. En ja, dit was die hele personeel! Dis hier waar ek en die Juffrou langs my die saal se agterste muur een jaar moes beskilder vir 'n konsert wat sou gebeur. Elke middag vir een hele week lank het ons soos kinders geverf, gespeel en geniet!

Ek dink daar was so 120 kinders op daardie stadium in die skool. Vandag bars dieselfde skool uit sy nate en is daar kwalik parkeerplek vir die ouers wat smiddae hul kinders kom oplaai. Meneer Booyens was toe die hoof en sy vrou die sekretaresse. Sy sit heelvoor regs. Dis by haar wat ek die heerlikste yskastert-resep gekry het. Ek het dit so baie maal gemaak toe my kinders nog in die huis was.  Jy kan gerus ook probeer, so maklik soos... 'n yskastert! En heerlik!
                                                               Piesang-en jellietert
Een gaar tertkors (Fyngedrukte Tennisbeskuitjies met botter gemeng werk die beste!) 
Eertse laag: piesangs
Tweede laag: een blik gekookte kondensmelk (kook  vir een en 'n halwe uur. Deesdae KOOP mens dit!) 
Derde laag; Een pakkie suurlemoenjellie amper gestol, bo-oor alles, bedek piesangs anders word hulle swart. Versier met room en kersies.


Ek tel 39 kinders hier. Ek twyfel of ek dit vandag sou kon behartig...maar toe was dit kinderspeletjies en het ek elke oomblik daarvan geniet! Kyk die lekker kort rompie wat die Juffrou aanhet! Ai, waar is die dae. Op 'n dag vra ek die kinders wat sal hulle eerste inpak as hulle met vakansie sou gaan. Onmiddellik antwoord Koos: "'n Broodmethth Juffrou!" Hulle was arm en 'n sny brood was vir hom lewensnoodsaaklik. Al die ander het dinge soos sonroom, swemklere, branderplanke ens. genoem.

(Sou jy jouself op hierdie foto herken, laat weet my waar jy vandag is asb. ? Julle was almal lieflike kinders! ) 

13 January 2014

Umzimkulu

Dit was die jaar 1976. Ons het by Bizweni Gevangenisplaas gewoon naby die dorpie Umzimkulu. Umzimkulu is agtien km. suid-wes van Ixopo en ongeveer 250 km. noord-oos van Umtata in KwaZulu Natal.

My eersteling was toe twee jaar oud. Laerskool Umzimkulu was 'n klein skooltjie met 'n leerlingtal van ongeveer veertig kinders. Die skoolhoof se naam was Mnr. A.J. van Rijn en wat ek van hom onthou, is dat hy baie lief vir sweiswerk was. Hy het ook graag met 'n lieflike, duur vulpen geskryf en het die mooiste handskrif denkbaar gehad.

Dit was 'n dubbelmedium-skool en daar was omtrent ewe veel Afrikaans- as Engelssprekende kinders. Mnr. van Rijn het elke tweede Maandag dus sy opening in Engels waargeneem. Was dit toe dat ek vir die eerste maal in my lewe gehoor het presies hoe mooi  Bybelwoorde in Engels klink?

Psalm 139
 O Lord, thou hast searched me, and known me.
 Thou knowest my downsitting and mine uprising, thou understandest my thought afar off.
 Thou compassest my path and my lying down, and art acquainted with all my ways.
 For there is not a word in my tongue, but, lo, O Lord, thou knowest it altogether.

Ek wou nie regtig op daardie stadium van my lewe skoolhou nie. Ek wou net Ma- en vrouwees, want alles was nog so nuut en opwindend. Toe een van die permanente onderwysers egter met kraamverlof moes gaan, was daar nood en het die hoof my gevra of ek nie kans sien om te kom "uithelp" nie. Dit was 'n klein dorpie en onderwysers so skaars soos hoendertande. Ek het ingewillig. My kleuterkind kon saamkom.
Op 'n stadium het die hoof bedank of afgetree en het baie kinders ook die skool verlaat. Ek en agt kleingoed het oorgebly. Hoe heerlik! Net agt leerlinge in my klas in verskillende Grade en tale en een kleinding van my eie. Ek was toe sommer die hoof, die Juffrou, die sekretaresse en die "tealady", alles in een.

Elke dag van half agt tot een uur sou ons klompie die lewe en sy uitdagings aanpak. En dit was wonderlik. Ons skoolgebou was onder groot bome en nooit het onsonveilig gevoel nie. Ek het soggens een vir een kind gevat en sy werkies met hom gedoen en gehelp, óf in Afrikaans, óf in Engels. Terwyl ek besig was met een of twee in Gr. Een, het dié wat in ander Grade was rustig gelees of geteken totdat dit hulle beurt was om uitsoek-aandag te kry. Intussen het my eie Rooikoppie sit en blokkies speel of krabbels met vetkryt geteken. Soms was die pouses sommer ook langer as gewoonlik en het die klok gelui net wanneer hy wil. Of wanneer ons wil.


Die seuntjie derde van links in die agterste ry se naam was John Havemann. Hy was baie intelligent. Suiwer Engels van bo tot onder. Op daardie stadium was my Engelse woordeskat maar beperk, komende van die goeie ou Transvaal. Ek het vinnig geleer as 'n mens nie Engels of Zulu in Natal praat nie, dan praat jy nie. Dit was John wat my ook geleer het dat 'n bourekenaar 'n "Quantity surveyor " in Engels is, want sien, sy Pa was een. Ek onthou dit tot vandag toe nog. 'n Onderwyser leer dikwels ook baie by kinders.


Die seuntjie heel regs agter se naam was Terry Hobson. Hy het pouses sy kosblik oopgemaak en gereeld vir my 'n stukkie van sy heerlike "Banana loaf" wat sy Ma gebak het, aangebied. Ek moet nog die resep iewers tussen my bêregoed hê.  Dit was watertand-lekker! 
Op 'n dag loop daar 'n kat by ons klaskamer verby. "Puuuusssss ! Puuuusssss!" roep Terry haar in Engels.

Dit was vreedsame dae propvol onskuld en eenvoud. Aan die einde van daardie jaar is die Gevangenisplaas aan die Transkei oorhandig en het die klein skooltjie ook toegemaak. Ons het na Ixopo verhuis en die kinders het elk 'n ander heenkome gevind. Ons almal was maar hartseer om te groet, want ons het geweet daar sou nooit weer presies sò 'n skool op aarde wees nie.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...