25 August 2014

Vyf-en-veertig jaar later

"Ek is Gawie de Wet!" sê hy vriendelik en steek sy hand na my toe uit. Ons staan in Brooklyn Teater waar vier-en-vyftig van my skilderye uitgestal gaan word vir die volgende ses weke. (21  Aug. - 1 Okt. 2014) 
Vyf-en-veertig jaar verkrummel in een sekond en ek sien weer die skamerige Gr. een seuntjie uit my heel eerste Gr. Een-klas in Barberton. Ek was twintig jaar oud daardie jaar. Die hele wêreld het oop voor my gelê. Dit was die eerste keer dat ek regtig ver van die huis en my ouers af was. Toe was "ver" so 300 km. Ek onthou my Pa het skoon bewoë geraak toe ons die brief van die Transvaalse Onderwysdepartement ontvang waarin daar geskryf staan dat ek op Barberton aangestel is. "Nou gaan my doggie so ver weg wees..."


 Gawie de Wet: middelste ry, derde van links. Yzelle van den Berg, heel agter in die middel, die langste dogtertjie. 

Nietemin. Hier staan Gawie nou. 'n Volwasse man. My somme was nog nooit te waffers nie, maar ek reken hy moet so om en by 53 jaar oud wees. Hy het al die pad van Johannesburg af gekom om na sy Gr. Een-Juffrou se kunsuitstalling te kom kyk. Hoe wonderlik. En hy het nie net gekyk nie. Hy het ook 'n skildery gekoop. 


"'n Dag in die veld"- akriel op doek. 

"My Ma woon nog steeds in Barberton," sê hy,"sy stuur groete." 
Ek wikkel my toe in sy Ma se groete, in sy teenwoordigheid, in my herinneringe en in syne. Hoe kosbaar is die lewe nie! My aand is gemaak. Ek gee nie om of ek min of baie skilderye verkoop nie, ek voel skatryk in die teenwoordigheid van die spesiale gaste wat my vreugdes saam met my kom deel het. Yzelle is ook daar, 'n mooi jong vrou. Sy woon in dieselfde dorp as ek en ons het eens op 'n tyd saam kunslesse gehad by Riana Dippenaar. Op 'n dag vra sy my: "Het jy nie op Barberton skoolgehou nie?" "Ja, dis waar ek begin het!" antwoord ek toe. "Ek was in jou klas!" Dit was ook een van daardie wonder-oomblikke in die lewe. Dis juis as gevolg van haar verbintenis met Gawie op facebook, dat hy gekom het.  
Mag jou skildery veel vreugdes verskaf Gawie, mag jy elke dag die paadjie met ligte tred stap. Mag die waters rus verskaf as jy moeg voel. Mag die lug altyd helder en oop oor jou hang. As jy dalk alleen of eensaam voel, praat met die bome. Bome kan luister. Jy weet mos, jou Gr. Een juffrou het jou dit lank, lank terug geleer.  

4 comments:

  1. Hoe wonderlik om ou vriendskappe en kennisse te hernu Liz! Mag die volgende 45 jaar net so wonderlik wees! Gelukkige Nuwe Jaar!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ja Maree, dit was 'n aand wat ek nie maklik sal vergeet nie....baie dankie vir jou mooi wense en dat jy hier kom lees het. Mag jou jaar ook allerlieflik wees.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...