23 December 2013

"Ek laaikit!"



'n Stukkie lewenswysheid het een mooi dag oor my kom spoel. Dit was storietyd aan die einde van 'n lang skooldag en al die Graad Eens het tjoepstil, hande-in-die-skoot gesit en wag vir die wonder-oomblik wanneer Juffrou gaan begin vertel. Wat 'n belewenis om die konsentrasie op hul gesiggies te aanskou, die absolute oorgawe, die intense meelewing.

Soms was dit lagwekkend en moes ek met groot selfbeheersing aan my storie vasklou, want sou ek glimlag of lag op 'n onvanpaste tyd, sou alles soos die mure van Jerigo inmekaar stort en was geheel die storie daarmee heen.

Dit was tydens een so 'n salige storiesessie waarin die hele klas doodstil aan-my-lippe-hangende, amper te bang om asem te haal, gesit en luister het, dat my oog op die woeligste donkerkop koshuisbrakkie val. Ek het deur die vensters-van-sy-siel tot binne-in sy onvoorspelbare dieptes ingekyk. Vandag het hy my weer getoets en beproef en besmart soos min kinders dit kon regkry.

Hy het die vermoë gehad om binne 'n sekond die rustigste atmosfeer in die klaskamer te omskep in 'n chaos. Hy kon die kalmste Juffrou verander in 'n Tierboskat. Nà 'n pouse sou hy met wat na één beweging gelyk het maklik ten minste vyf van sy klasmaats gelyktydig benadeel: hul potlode van hul tafels afklap, 'n skerpmaker vaslê, 'n broodjie laat val en dit op die vloer in 'n onaptytlike pappery vastrap of sommer skaamteloos vloek.

Waar hy nou hier voor my met sy swart oë sit, was hy egter 'n prentjie van vrede en geluksaligheid. Sy hele houding het getuig van afwagting. Roerloos, tevrede en gelukkig.

Toe maak ek 'n fout. Ek knipoog vir hom.

Onmiddellik jil hy dit vrolik uit: "Ek laakit as Juffrou vir my oogknip!"

Onnodig om te sê, dit was verby met my storie. Die res van die kleingoed het begin vroetel en woel en al die drade was uitgerafel. Ek het my bes gedoen om weer orde en rustigheid te kry, maar helaas!

Tog het iets my bly gemaak. Die amper heilige oomblikke van stille oorgawe wat 'n storie voorafgaan, was nie te heilig om 'n stukkie menslike warmte te deel nie en om uitbundig daarop te reageer nie.

Die blydskap oor die vertroulike knipoog, die wete dat hy dit presies op daardie oomblik syne kon maak en met trots aan almal kon uitbasuin, dìt was vir my koshuisbrakkie belangriker as die mooiste storie op aarde. Dìt het kleur aan sy saai menswees gegee.

En ek? Ek het nie omgegee nie. Daar sou nog baie storieverteldae vorentoe wees. Dae waarin ek nie nodig sal hê om oog te knip nie, want  Jacques sou weet.

2 comments:

  1. Dit sal jou leer om nie vir 'vreemde mansmense' te knipoog nie Liz! Maar 'n kinderhartjie het jy darem bly gemaak!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir jou, dat jy my stories kom lees Maree! Waardeer.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...