Om van Peet te vertel, kan lank vertel word. Hy was uniek, 'n kind wat op sy eie ongekunstelde manier diep in my hart gekruip het om daar te bly vir altyd. Saam met my liefde vir hom, het ek ook 'n eindelose gevoel van beskerming en betrokkenheid by sy doen en late ontwikkel. Peet is al nou al uit die skool en ek lankal nie meer 'n jong Juffrou nie, maar sou ek hom van tyd tot tyd iewers in die dorp raakloop, sal ek steeds die deernis en toegeneentheid van destyds vir hom voel. Hy was nou maar eenmaal een van daardie kinders.
Peet se ouderdom vir Graad Een was reg, maar sy verstand het iewers vasgeskop. Iewers waar 'n kind nog baie sukkel om te praat, tussen begin-praat en kleuterpraat. Hy kon nie al die klanke suksesvol sê nie en volsinne was ver bo sy vuurmaakplek. Klanke wat hy wel geken het, het hy op verkeerde plekke ingespan. Vir hom was dit moeilik om te kommunikeer. Hy het hom egter nie veel daaraan gesteur nie en as hy iets wou sê, het hy met sy krummeltjie-woordeskat homself sonder skroom probeer verstaanbaar maak vir almal wat wou luister.
Sou hy bv. wou sê: "Juffrou, ek het my geld vergeet," het dit só geklink: "Jfoe, ek my selt seet!" Ek het later 'n oor vir Peet se spraak ontwikkel en deur die genade verstaan wat hy probeer sê as hy so sukkel-sukkel praat:
"Jfoe, kwil tolet toe han…"
"Haak wil my sat!' (Jacques wil my slaan)
"Jfoe, 'n kêppiejoen het my ma heteek!"
"Sit oppe kebas!"
"Jfoe, wane kan ek my tek vi Jfoe see?' (tjek gee)
"Ek het om lyne han!" (om die lyne gegaan)
"Ek it nie my potskele nie!" (ek het nie my sportklere nie)
"Moet ek die atte-ond ok inkeu?" (agtergrond ook inkleur)
"Fyt, fyt, my tolie is kaa!"
"Sy't my 'n tempel en 'n tel hegee!" ('n stempel en 'n ster)
"Ons hette tofeier!" (stofsuier)
"Hy't hips aan sy amme" (gips aan sy arms)
Een pouse raas die prefekte met Jacques. "En met ek!" vertel Peet met 'n glimlag, nie doodseker of mens trots of skaam daaroor moet voel nie.
Daar was egter één woord wat Peet perfek kon uitspreek. Ja, dit was die ou bekende wegjaagwoord in krasse taal: “F….!” In sy voorskooljare het hy dit daagliks gehoor en dit het so diep ingesink en deel van sy karige woordeskat geword dat hy nie eers besef het dis heel rof om so te praat nie, veral nie in 'n klaskamer en veral nie voor 'n Juffrou nie.
Hy het dié woord tydig en ontydig ingespan. Wanneer die kinders hom terg of treiter, het hy hulle daarmee gepeper. Male sonder tal. Klein soos hulle is, het die ander kinders natuurlik dié situasie begin uitbuit en hom met opset getart sodat hy sy vreeslike vloekwoord kon sê.
Dit was tog vir die terggeeste te lekker as Juffrou so kwaad raak omdat Peet so lelik praat. Hy het gladnie die vermoë gehad om 'n "wag voor sy mond te sit nie" en die vreeslike ou f-woord het sommer vanself sy pad gevind. Sonder sukkel. Onnadenkend, duidelik en hard, sodat almal in die onmiddellike omgewing en selfs verder dit goed kon hoor. Ek het duisende planne uitgedink om hom van dié gewoonte te laat genees, maar alles tevergeefs. As ons maar weer hoor, het Peet weer ge-f….!
Op 'n dag sê ek uit pure radeloosheid: "Ek klim sommer een middag in my kar en kom kyk wie vloek so daar by julle huis!" Hy het dié woorde onthou. Ek het dit onmiddellik vergeet, want wààr gaan 'n besige Graad Een Juffrou met vier kinders van haar eie tog nou tyd kry om te gaan luistervink speel.
Op 'n dag so 'n week of drie na my ondeurdagte dreigement, ry ek na my kleremaakster se huis. Ter insae: die naaste wat ek aan naaldwerk kom, is om onder groot druk miskien 'n kopseer-knoop aan te werk of 'n sukkel-soom in te sit. Op pad daarheen, vang my oog 'n paar kinders wat buite in hul erf balgooi en speel. Een van hulle was Peet.
Dìs dan waar hy woon, het ek gedink en besluit sommer net daar om met die terugkomslag te gaan kennis maak. Ek het gladnie gedink aan wat ek weke gelede vir hom gesê het nie. Ek was net nuuskierig om meer van sy huis en sy mense te wete te kom, want sien, ek was mos maar erg oor die ou seuntjie met die dik, bruin hare en beperkte begrip.
Die ontvangs was hartlik en baie opreg. Peet se Ouma was die hart van die huis, sy het my voorgestel aan Peet se ma wat skamerig geglimlag het en my aangekyk het met iets soos die allerheiligste respek. Hier was nou 'n regte Skooljuffrou voor haar oë. Ek het meteens só klein gevoel.
Peet se Mamma het toe nou ook nie veel gepraat nie; net alles met 'n inkennige glimlag beaam, haar oë dàn op die Ouma, dàn op my, dàn op Peet wat stom langs sy Ma se stoel geparkeer gestaan het sonder om te roer.
Ouma het die geselskap aan die gang gehou, tee gemaak, koppies uitgepak op 'n netjiese, gestyfde en uitgeborduurde skinkbordlappie. Sy het my uitgevra oor Peet se gedrag in die skool. Dit was opvallend hoe netjies alles in die huis was ten spyte van finansies wat seker ook maar karig was.
Die pa was 'n motorwerktuigkundige en nog by die werk tydens my kuier. Ons het nog so 'n bietjie ge-oe en ge-aa, Peet steeds tjoepstil langs Moeder se stoel en sy steeds sprakeloos. Ek besluit toe om maar te vertrek. Ek het hulle hartlik bedank vir die tee en belowe om weer te kom.
Toe ek wegry, sien ek in die truspieëltjie hoe Peet sy arms swaai asof hy vir ewig van my wou afskeid neem. Ek het nog kleiner gevoel en daaraan gedink hoe min tyd het dit nou van my gevra om net bietjie belangstelling te toon. Waarom kan ons dit nie meer doen nie? Ons sou die kinders wat voor ons in die skoolbanke sit tog soveel beter verstaan.
Die volgende oggend veilig terug in die skool en sommer nog aan die begin van die dag, vertel ek aan al die ander kleingoed hoe lekker ek gister by Peet gekuier en tee gedrink het. Ek wou nog asemskep om verder te borduur, toe hy skielik opspring en baie ingenome met homself uitroep:
" Ja! En ons VOEK nie mee' nie!"
Skielik het daar vir my 'n helder lig opgegaan en het ek gewéét hoekom hy heeltyd so vasgenael en doodstil langs sy ma se stoel gestaan het tydens my kuiertjie, sekerlik wagtende op die gevreesde oomblik wanneer Juffrou in haar kwaai stem sou sê:
"WIE VLOEK SO IN HIERDIE HUIS?!"
Onnodig om te sê, Peet se geliefde f-woord het 'n stille dood gesterf.