Daar is so baie stories. Ware verhale. Stories wat gedeel moet word, stories wat vertel moet word. My skoolhoujare lê agter die rug, maar herinneringe bly vir altyd. En die meeste daarvan is mooi. Daar is kopiereg op my werk. Ek gee nie om as jy dit deel nie, maar onthou om my te erken.
9 December 2013
Die plêstiek glimlag.
Hulle is onder sewe, hulle is in Graad Een, hulle is ramkatte. Tagtig seuntjies, genaamkaart en gereed vir die opwindende dag. In rye sit hulle: Duikers, Steenbokke, Ribbokke.
"Juffrou, my speld het verloor!"
"Juffrou, my naam het afgeval!"
"Juffrou, kan ek net gou na my Ma toe gaan?"
"Juffrou, wanneer hardloop ons?"
Die predikant wat die sonskyndag met skriflesing en gebed moet open, lees: "Ek span my in om by die wenstreep te kom." Daar is wenstrepe en wenstrepe. Vandag gaan ek my inspan soos nog nooit voorheen nie. 'n Helder son hang oor die nuwe Suid-Afrika en die nuwe Graad Eens. Vandag moet ons die wenstreep haal.
"Juffrou, hier's my geld!"
"Juffrou, ek is dors!"
Bruin beursies, bont beursies, blou beursies, rugsakke, drasakke, handsakke, alles in Juffrou se groot sak. "Help my dra?" Gewillige ouers word ingespan.
In drie netjiese rye stap ons tot daar waar die naellope begin. Ek pak die seuntjies een vir een reg in sy baan. O gits, hulle het nog hoede op. Ek pluk hoede en pette van sewejaar-oud koppies af, armsvol daarvan, prop dit bo-op duisend beursies in die groot sak en snel so vinnig as wat my amper halfeeu-oue bene my kan dra na die wenpaal toe om punte te gaan opskryf.
Hier kom hulle al. Die eerste kind kry vier punte, die tweede drie, die derde twee en die vierde een punt. Kophou is die antwoord, nou moet 'n Juffrou sterk staan. Hoekom is hierdie name so dof? Waar is my leesbril?
"Juffrou, wanneer kan ek my geld kry?" vra 'n dun stemmetjie hier van agter af. "Nee wag nou eers, my lam, ons sal nou-nou begin geld uitdeel." Waar is die sak met die beursies? Ag, dit lê nog doer ver by die wegspringplek. My oog vang drie gewillige Mammas wat ons op ons veeleisende "toer" vergesel. Telepatie. Die ouer-onderwyserverhouding blom. Met wye glimlagte bring hulle al ons sakke nader terwyl ek my tagtig manne na 'n koeltekol vergesel.
"Wie skree nou so?"
"Ek wil my Maaaaaa hê!" kom dit luidkeels van êrens uit die warm bondel rooiwangseuntjies. Snotentrane. "Ag!" Vireers ignoreer ek hom en begin beursies uitdeel. Almal gaan Snoepie toe en Juffrou wag geduldig onder die boom.
Met handjies vol koeldrank en lekkers en plastiek tande kom hulle blinkoog terug. Aaklige, goudgeel, plastiek tande wat gewone seuns in brullende leeus verander. "Whaaaaauuuuu!" brul hulle vir mekaar en val mekaar bloeddorstig aan. Miskien, baie miskien, vreet hulle mekaar dalk op.
Ons gaan gooi krieketbal en hulle geniet dit. Oor tien minute is dit die 60m finaal.
"Juffrou, my hoed is weg!"
"Juffrou, gaan ons weer hol?"
"Juffrou, hy stamp my!"
Die finaliste moet aantree."Wie is jy? Nee, jy moenie nou hardloop nie."
Ek lees gou weer die name. Dan spoed ek wenpaal toe om te kyk wie is eerste, tweede, derde, vierde. Het ek iemand hoor hande klap? 'n Bondeltjie ouers waak oor my bloedjies wat nie nou moet hardloop nie. Dankie, julle kan later jul medaljes persoonlik by my kom haal.
Klein George Tossel is die wenner. "Jou doring, Juffrou se bulperd!" Ek skryf punte by. Nou nog net die slingerbal. Ek slinger al. Die son bak. "Juffrou, kan ek kamerverlaat toe gaan?" vra 'n benoude, dun stemmetjie.
"As jy nou loop, is jy weg, my engel." Hy sit. En ek dra die gevolge.
"My kind het in sy broek gebollie. Dis jou skuld, " sê 'n ongelukkige moeder.
Plastiek-tanne-innie-mond slinger hulle die bal bo-oor, onderdeur, skuins verby, reguit-hemel-toe, vorentoe, agtertoe, deur die gat. 'n Vloekskoot, hoerê! "Jy's 'n kampioen, my kind!"
Teen 12 uur is ons klaar.
"Kan ek hom maar vat?" vra 'n angstige ouer.
"Asseblief!"
Toe ek by die koeltebome uitkom en plat op die gras gaan sit om die punte horisontaal en vertikaal op te tel, is my taaibek, songebruinde seuntjies aansienlik minder. 'n Groot dankie-bly vou sy arms om my moeë skouers. Ons hét toe die wenstreep gehaal.
Die byeenkoms is verby. Almal stap huis toe. Sy blou oë kyk op na my: "Juffrou, mag ek nou kamerverlaat toe gaan?" Met die wegstap, draai hy vir oulaas om en gee my 'n wye glimlag: "Juffrouou, kyk my tanne!"
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ek is skoon uitgeput na al daai harde werk wat jy gedoen het Liz! Maar ek weet die kinders het dit sommer baie geniet!
ReplyDeleteEk glo so, baie dankie Maree!
Delete