3 December 2013

Wat is in 'n naam?

Die son skyn wreedwarm op Moederaarde neer. Op die atletiekveld van die laerskool waar Juffrou Saar sit en name opskryf, is die sonstrale so 'n graad of wat intenser as elders. 'n Duidelike mansstem dawer oor die luidspreker: "Onder elf meisies, honderd meter naellope!" Wilgerlatlyfies tree aan by die wegspringplek. 'n Skoot klap. Ouers en kinders jil en gil. Die tiental kinders nael vir 'n vale, lê oop wenpaal toe, gee hulle beste. Onderwysers met sonbrille en breërandhoede staan slaggereed om te kyk wie is die eerste vyf. Een na die ander word uitgevang soos skape wat kraal toe moet gaan. Rooiwang en blaas-blaas staan die kinders in hul wenvolgorde voor Juffrou Saar in 'n ry.
"Naam?" vra sy, gereed om te skryf, selfversekerd en bedrewe in haar werk, jare se ondervinding agter die blad.
"Chantonné!" sê die blonde kind uitasem.
"Wat? Spel dit asb.?"
"Ch a n t o nn é!" sê die kind en die spoeg spat.
Juffrou Saar skryf. Waar sou die kind aan so 'n naam kom?
"Volgende? Naam?"
Sy kyk op en sien dis 'n kind van donker pigmentasie.
"Your name?"
"Tshegofatso-Nonhlanhla!" sê die kind triomfantelik. Spierwitte tande flits in die son.
"Write it down, please?" en Juffrou Saar gee die potlood in die tienjarige se hande. Sy skryf haar naam l a n g s a a m op die papier neer, kinderletters, swart letters op 'n wit papier.
Die derde kind staan voor Juffrou Saar.
"Marélisna!" sê sy sonder skroom.
Juffrou Saar vee 'n paar sweetdruppels van haar voorkop af , tik met haar sneesdoekie teen haar slape. Die soet reuk van haar "four-seven-and-eleven"- reukwater hang in die lug. Dan kyk sy vinnig op, sien die kind se glimlag en skryf dapper voort.
"Naam?" vra sy vir nommer vier, potlood huiwerend bokant die papier.
"Winsoretha" blaas die kind die vreemde naam uit voor Juffrou se blink aangesig.
Dis warm. Juffrou Saar is deeglik bewus van 'n polsende pyn in haar skof.
"Win-so-re-tha?" vra Juffrou Saar, beklemtoon elke lettergreep afsonderlik, net om doodseker te maak.
"Ja Juffrou! My Pa se naam is Winston en my ma s'n Retha en nou's ek sommer na altwee vernoem!" sê die kind ewe trots en bekkig. Juffrou Saar laat dié brokkie onnodige inligting by haar verbywarrel.
Dis nommer vyf se beurt om haar naam te sê.
Juffrou Saar kyk bekommerd op, 'n reuse vraagteken in lyne oor haar gesig.
"Sannie!" sê die kind eenvoudig..
Juffrou Saar spring op, stamp haar glas lou koeldrank om sodat dit in oranje poeletjies oor die papiere op die tafel stroom. Vergete is die hitte, vergete is die pyn in haar nek…sy gryp die kind se hande en draai met haar al in die rondte.
"Sannie, Sannie! Sannie! Ek soen jou sommer………. Sannie!"
Sannie, skoon oorbluf, se beker loop oor en sy dans saam, uitbundig-bly omdat sy v y f d e is!

2 comments:

  1. Oe ha ha ha! Lekker lag ek nou! Juffrou wees is nie vir sissies nie!

    ReplyDelete
    Replies
    1. O nee, dit is nie!! ;-)
      Dankie vir die inloer Maree.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...