Die skoolsuster.
1992.
Dit was ‘n instelling dat die skoolsuster op taamlik gereelde basis die skool besoek het. Sy het, soos die Graad Eens dit opgesom het:
“oë en tande getoets”,
“kyk of ons kan hoor en sien wat juffrou op die bord skryf ”,
“toets ons lyf “,
“laat ons op ‘n stoel sit en ons hemde uittrek”,
“ondersoek jou oë en balans en dan moet jy die heeltyd vir jou vinger kyk”,
“sy kyk hoe lank ons is, of ons gesond is en sy skryf vir ons Ma ‘n briefie....”
Elkeen het sy eie weergawe gehad van wat dié sorgsame Suster alles sou doen.
Dit was weer sulke tyd en dié keer het die skoolsuster die kinders baie deeglik ondersoek.
Die seuntjies moes almal eerste na haar toe gaan in die skoolsaal waar sy met haar ondersoek besig was. By my in die klaskamer was net dogtertjies en hulle het almal angstig gewonder wat die skoolsuster alles met hulle gaan doen. Hulle kon mekaar taamlik opsteek om bang te word vir wat ookal op hulle wag.
”Sy het ‘n spuitnaald!” het ek enetjie hoor sê en ”sy kyk tot verrrrr agter in jou keel en as jou tande nie geborsel is nie, dan skryf sy vir jou Ma net so ‘n lang brief!” en sy beduie met smaak aan haar toehoorders hoe lank die brief presies gaan wees. Groot-ogig het hulle na haar geluister en begin naels kou. Ek moes kalmeer en paai en het die bangmaakstories sommer dadelik stopgesit.
Gou was die seuns terug en het met opgewonde gesiggies in ‘n ry voor die deur kom staan en aankondig: “Die meisiekinders moet nou kom!” Met ‘n gedreun van stoeltjies het hulle opgestaan en deur se kant te gebondel, die ene afwagting.
Toe die seuns rustig tot sit gekom het en ons aangaan met ons werk, daar waar ons opgehou het, het ek, ook maar mens en ook maar nuuskierig, gevra: “En wat het die skoolsuster alles gedoen?” Daar was dadelik ‘n gerondloer onder mekaar, ‘n soort onrustigheid en skamerige glimlaggies.
“ Sy het in ons broeke gekyk.” het een dapper seuntjie vinnig gesê.
“Rêrig?” het ek hom aangepor.
“Ja, en sy het daar gevoel ook.” het hy sonder skroom bygevoeg. Die ander het almal skielik alles waarmee hul besig was net so gelos en hul volle aandag aan die gesprek gegee, bang hulle mis iets.
“Sy moet dit doen, dis haar werk. Sy moet kyk of alles reg is “, het ek hulle so kalm as moontlik geantwoord. My onversteurde houding en kalmte moes bygedra het tot dit wat gevolg het. Hulle het die groen lig gekry.
“Sy sê mens noem dit ‘n penis!” het Roelfie uitgeroep, trots om dié vreemde woord te kon onthou en boonop reg uit te spreek.
Ek het doodluiters aangegaan met sterretjies plak en kwalik opgekyk. Hulle het almal gemaak asof hulle werk, maar ek het geweet hulle is nou so oorgehaal om te vertel soos nog nooit voorheen nie en ek was natuurlik doodnuuskierig. Nes dit ‘n goeie Juffrou betaam.
“Aaaaag ek noem hom sommer my ou Pietie!” het Wynand met sy bloedrooi appelwange en ‘n breë glimlag op sy ou mooi gesiggie gesê. Nou was daar geen keer aan hulle nie, hulle was op hul gemak en sonder enige voorbehoude of inhibisies, amper bly om al hierdie privaat kennis wat sekerlik tot dusver in die grootste geheimhouding toegehou is, met iemand te deel. Veral met iemand soos Juffrou.
“En ek noem myne Dik Daan!” het Timmy, ‘n tingerige, maer seuntjie uitgeroep.
Almal het geskater van die lag. Ek ook.
Toe het die dogtertjies skielik teruggekom en het ons dadelik dié gesprek stopgesit en doodluiters aangegaan met werk. Toe die pouseklok lui, kom staan Johan styf teen my en maak ‘n bakhandjie om iets in my oor te fluister. Ek buig af na hom toe en vra: “Wat is dit?”
“Juffrou, Juffrou moet weer die dogtertjies uit die klas stuur. Dis soooo lekker as ons so met Juffrou praat soos netnou. Ek het van dit gehou.”
Of hy ‘n Pietie-man of ‘n Dik Daan-man was, het hy nie gesê nie.
Ons vertrouensverhouding was stewig gevestig.
Ag, hoe goed onthou ek nou net nie daai dae nie! Dit WAS altyd 'n groot gedoente wanneer die Skoolsuster gekom het. Onthou jy hoe ons melk en vrugte en sop in winter gekry het? Daar is baie wonderlike dinge wat oor die afgelope jare verlore geraak het in ons onderwyssisteem. Het hierdie pos baie geniet!
ReplyDeleteO ja ek onthou! En ons het waatlemoen ook gekry van die ryk boere hier in die omgewing!! Dit was heerlik. Ek waardeer dit dat jy kom inloer het Maree, bly jy het geniet!
DeleteEk het vanaand regtig tyd gegaps om hier te kom dwaal en nie een sekonde spyt nie. Het elke bydrae verslind. Het hardop uitgebars van die lag vir Dik-Daan. Hoe kosbaar is jou onthou nie, en duisend en tien dankies dat ons mag deel daarin. As jy hierdie vir ewig in boekvorm wil ek nou al my bestelling plaas groot assembliefie.
ReplyDeleteSo baie dankie Raaitjie vir jou aanmoedigende woorde!! Die plan is om AL die stories eers hier te publiseer en dan te kyk of dit in boekvorm gedoen kan word. Sal moet uitvind! Dankie vir jou meeleef. Groot waardering.
Delete