10 December 2013

En sênou ...


 
Dit was ons gewoonte om aan die einde van die dag storietyd te hê. Dit was 'n salige, rustige tyd en almal het dit geniet. Wààr op aarde is daar 'n kind wat nie 'n storie wil hoor nie?

Tydens hierdie storiesessies het die kleingoed hulself dikwels totaal vergeet. Hulle het aan my lippe gehang. Elke woord ingedrink en hulself geheel en al ingeleef in die heerlike stories. Dit het nie saak gemaak of ek dit voorgelees het en of ek dit vertel het nie. Ek het dikwels stories uit my duim gesuig. Vir hulle het dit geen verskil gemaak nie. 'n Storie is en bly 'n lekker ding.
Saam met die self-vergeet het hulle ook soms hul maniere vergeet en glipse gekry. Dan was dit in die hele klaskamer sommer uiters onwelriekend. Een of twee van hulle, veral die dogtertjies, sou dan met groot verontwaardiging hul handjie voor hul neus vinnig heen en weer waai om sò te beduie dat dit nou nie juis aangenaam ruik in die onmiddellike omgewing nie. Nà 'n rukkie het diesulkes maar weer met oorgawe geluister. Onwelkome reuke totaal vergete.

Op 'n dag, terwyl ek storielees, het iemand egter heeltemal oorboord gegaan. Stink winde was erger as ooit voorheen. Ek het met moeite aanhou lees, maar dit was bitter onaangenaam. Oral het wuiwende handjies voor neuse verskyn en niemand het of kon meer luister nie.

Ek het Jacques, 'n koshuisseuntjie, verdink en hom dadelik badkamer toe gestuur. Ek was tog op dié stadium nie lus vir str..ooi nie. So met die uitstap en omdat ek vermoed het dis dalk erger as wat ons dink, sê ek vir hom:"Kyk tog of alles reg is in jou broek!"

Nét daar roep Peet onbeskroomd uit: "En as daar…... kak in is?!"

Die res van die klas was al slim genoeg om uit te bars van die lag en ek het self met moeite my lag bedwing en terselfdertyd besef Peet is toe gladnie so stadig van begrip as wat ons almal gedink het nie.

2 comments:

  1. Juffrou Liza ek wil hier onderaan al jou pragtige stories uit jou skoolhoudae, vir jou kom skryf ek laaikit kwaai :) en een van jou kosbare briefies het ek vandag gegaps as rigtingwyser op my lewenspad: "Vir geewi my sondi asiblief"

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Raaitjie, ek is bly jy "laaikit!" Mooi loop. Ons almal sal ver kom met daardie goeie rigtingwyser né.
      Waardeer jou stilstaan hier baie.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...