Daar is so baie stories. Ware verhale. Stories wat gedeel moet word, stories wat vertel moet word. My skoolhoujare lê agter die rug, maar herinneringe bly vir altyd. En die meeste daarvan is mooi. Daar is kopiereg op my werk. Ek gee nie om as jy dit deel nie, maar onthou om my te erken.
4 December 2013
Die nuwe tekkies
Dit was aan die begin van 'n splinternuwe jaar en daar was honderde goed om te doen: registers skryf, edlabkaarte invul, kinders se name leer ken, boeke oortrek, sillabusse bestudeer en toepas, voorbereiding doen, klasbesoeke deur die hoof, buitemuurse aktiwiteite en nog duisende ander kleiner en groter dinge. Ek was taamlik onder druk en doelgerig om alles reg en klaar te kry en veral op datum te kry. En ek was nog bloedjonk en onervare.
Vroeg een oggend op so 'n oorvol, besige dag kom Hannes na my tafel toe en kondig trots aan dat hy nuwe tekkies gekry het. "Dis te lekker," sê ek half onbetrokke, gedagtig aan al die werk wat voorlê vir dié spesifieke dag en angstig om te begin. "Kan ek dit vir Juffrou wys?" vra hy opgewonde.
"Ja, jy kan, maar nie nou nie, ons moet eers Bybel lees," het ek heeltemal te pligsgetrou gesê.
Ons het terstond met ons werk begin. Nà die Bybelles was dit Wiskunde en Hannes het weer probeer: "Kan ek nou my tekkies vir Juffrou wys?" "Jy kan netnou Hannes, kom ons maak net eers ons werk klaar!" Kan die ywer een mens so verteer? Hannes het geduldig gebly en sy werkies gedoen, maar elke keer weer probeer. Later het hy moed opgegee en ek, te midde van al die bedrywighede, het skoon vergeet van sy versoek. Kort-kort was daar iets anders wat my aandag geverg het. Ek het oral probeer raakvat en regdoen.
Aan die einde van die dag, net voor die huistoegaanklok sou lui, kom hy verleë voor my tafel staan, handjies agter die rug.
"Ja Hannes?" sê-vra ek, besig om op my tafel rond te vroetel en goeters in plek te kry.
"Juffrou….kan ek asb. net één tekkie vir Juffrou wys?" en hy hou 'n spierwit, splinternuwe tekkie omhoog, sy groot, blou oë vraend op sy Juffrou gerig.
Ek het soos 'n hond gevoel. Soos 'n rondloperbrak, sommer 'n mislike ding.
"Gaan haal die ander een ook, dan wys ons vir almal!" het ek probeer troos.
"Trieieieieieieieieiengngngngng!" lui die klok.
Hannes vlieg met 'n vaart na sy stoel toe, gryp die ander nuwe tekkie, spring oor die banke in een beweging en kom staan langs my, altwee tekkies in sy hande omhoog en 'n glimlag wat van oor tot oor strek.
U i t e i n d e l i k!!
"Juffrou, hulle lyk altwee dieselle!" sê hy droogweg.
Onnodig om te sê, nà dié dag het ek met baie meer geduld na my kleingoed se oënskynlik onbelangrike versoekies geluister en gehoor daaraan gegee, gedagtig aan die feit dat dit nie net kinders is wat by onnies leer nie, maar dat onnies ook bitterbaie by hul leerlinge kan leer.
En net vir die rekord en ter nagedagtenis: jaaaare daarna kry ek eendag 'n oproep, 'n mooi jongmansstem aan die anderkant: "Juffrou, onthou Juffrou my nog? Dis Hannes, Hannes-van-die tekkies!" Teen dié tyd het hy my toe nou al seker sewentig maal sewe keer vergewe.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ag sjym, arme Hannes! Bly om te weet hy het jou darem vergewe!
ReplyDeleteIs dit nie vreeslik nie....ons lag nou darem lekker daaroor! Dankie vir die inloer Maree.
Delete