20 December 2013

Eie bloed

Ons vyf.
 
Ek is geseënd met vier kinders van my eie. Dit was dus onvermydelik dat ek deur die lange jare van skoolhou nie ook vir hulle êrens en iewers formeel sou moes onderrig nie. Elke Ma en Juffrou wat al so-iets belewe het, sal met my saamstem dat dit nie die maklikste ding op aarde is om jou eie kinders  voor jou in die skoolbanke te hê nie. Hulle is mos been van jou gebeente en vlees van jou vlees.

Elkeen van my kinders het verskillend reageer op hul Ma as juffrou. Vir my eersgeborene was dit ‘n voorreg om haar ma as Afrikaanse onderwyseres te kon hê in haar heel laaste jaar op Laerskool.
Sy het vandat sy in die klas ingestap het totdat sy nà ‘n halfuur-periode weer uitgestap het, gemaak asof sy my nie eintlik baie goed ken nie. Doodstil gesit. Net geantwoord as ek haar iets sou vra. My nie aangespreek as “Juffrou” of as “Mamma” nie. Haar huiswerk getrou gedoen en nooit in die moeilikheid beland nie. Sou sy per toeval opkyk na my, was daar iets soos ‘n geheim tussen ons en ek het net een versugting: “Ag man Mamma, ek wens jy was liewers nie my Juffrou nie!” in haar mooi bruin oë gelees.

My tweede telgie het dit erger beleef. Ek was haar klasonderwyser in haar Standerd 2-jaar. (Vandag se Graad 4) As sy nie Mamma-aandag gekry het gedurende ‘n gewone klasperiode nie, het sy dit sommer self gevat. Wanneer die pouseklok lui, het sy bo-op my stoel gaan staan terwyl al die klasmaats tydsaam uitstap. Aan hul grootoogkyke het sy haar min gesteur. Dan het sy haar arms om my nek geslaan, haar kinderlyfie teen my myne vasgenestel en voor almal wat kon hoor, aangekondig: “My liefste ou Mammatjie!”

Ek het my uiterste bes gedoen om nie ‘n vreeslike emosionele reaksie te wys nie, wetende wat die gevolge daarvan sou wees. 'n Hele paar groot kinderoë het ons half-agterdogtig aangekyk.

Hoe meer ek tuis aan haar verduidelik het dat sy tog nie so moet maak voor die ander kinders nie aangesien ek in die skool haar JUFFROU is, hoe minder het sy dit verstaan. Haar liefdevolle negejarige hartjie was soos ‘n dam wat oorloop, daar was geen keer nie. Aan die einde van die jaar as dit prysuitdeling was, was dit eers ‘n tameletjie. Ek het so objektief moontlik probeer beoordeel, maar maklik was dit beslis nie.

My jongste twee lammertjies, ‘n seuntjie-en-dogtertjie tweeling, het deur die genade net één kwartaal by hulle Juffrou-Mamma skoolgegaan. Teen dié tyd het ek besef ‘n Ma wat eie bloed voor haar het, is een van twee mense: óf te kwaai, óf te vriendelik. Maar reg? Nooit.

In my tweeling se geval was ek na my eie mening heeltemal te kwaai. Miskien omdat daar twee was. En miskien ook omdat die totale leerlingtal van my klas net agttien was. Dit was in hul Standerd Een-jaar (Graad 3). Ek moes net bontstaan tussen al die snipsnaters wat “nuus aandra” oor my spruite.
“Juffrououou, Wilhelm doen dit!”
“Juffrououou, Liesl doen dat!”
Ek dink al sestien die ander kleingoed moes ernstig bedreig gevoel het oor Juffrou se baie kinders in dié klaskamer  teenwoordig.

Toe maak ek maar ‘n plan. Ek stuur hulle twee om iets in die kantoor te gaan haal. Intussen verduidelik ek aan die sestien oorblewenes hoe dit werk in ‘n skool, hoe dit werk met ‘n Juffrou en haar leerlinge en hoe dit werk in ons almal se harte.

Tuis het ek aan my tweelinkies mooi verduidelik wat, hoekom en waar. Ek het hulle ook gevra of hulle maar in die klas vir my “Juffrou” sal noem ter wille van die vrede. En miskien ‘n bietjie afstand. Ons het mos geweet hoe ons regtig voel.

Wat egter altyd baie lekker was, was dat ek heeldag by my kinders kon wees. Ek kon deel in hul prestasies, hul vordering, hulle hele skoollewe. Dit was ook altyd baie maklik om die vier raak te sien in ‘n saal vol kinders, want twee van hulle het rooikoppe. Die twee bruinkoppies was gewoonlik nie te ver daarvandaan nie.

No comments:

Post a Comment

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...