7 December 2013

Kosbare herinneringe


Ek was twintig toe ek begin skoolhou het, self nog eintlik maar 'n kind. Gelukkig was die kinders voor my in Graad Een en het hulle alles wat ek met die wysheid van 'n twintigjarige aan hulle sou verkondig, geglo en my aanbid, soos net 'n Graad Eentjie kan. Dit is die wonderlikste van die onderwys: daar is altyd iemand wat dink JY is WONDERLIK!

Dié wete het my menige dag deur menige moeilikhede gedra. Dis lekker om nodig te voel, dis lekkerder om bewonder te word en opregte liefde te ervaar, onvoorwaardelik, mooi soos die stralende, skoon kindergesiggies wat voor my gesit het vir baie jare op baie verskillende plekke.





Ek moes dikwels speletjies uitdink om hulle mee te vermaak en stil te hou. Gou het ek geleer dat 'n besige kind 'n soet kind is. So het dit gebeur dat ek 'n kind se naam sou sê terwyl ek boeke uitdeel en hulle dan die van uitroep, bv.
Ek: "Willem!"
Klas: "McSeveney!"
Ek: "Riana!"
Klas: "Rademan!"
Ek: "Koos!"
Frans: "VAN DER MERWE!" (Sy regte van was Smith.)



Een donker aand in my haas om by die telefoonhokkie en my ver-kêrel se stem uit te kom, hol ek teen die glasdeur vas en kry 'n yslike sny onder my oog. Vyf steke daarna en opgeswel, lyk ek toe vreeslik lelik vir myself. Om die kleingoed dié "gruwelike gesig" te spaar, sit ek toe maar 'n donkerbril op skool toe. Dit het beter gelyk na my mening, maar toe ek die bril op 'n keer afhaal, roep almal uit; "Nou lyk Juffrou weer mooi!" Onvoorwaardelike aanvaarding op sy beste, pimpelpers oog ten spyt. Louisa se ma het my persoonlik kom sê dat Louisa haar "dik gehuil" het omdat haar Juffrou so seer gekry het.



Andrew was die kleinste ou seuntjie, jonger ook as die ander. Een Maandag kondig hy selfversekerd aan: "My Ma het gesê die nurste kom vandag!"  Toe hulle 'n rukkie later nadat die "nurste" hulle onder hande gehad het, terugkom in die klas, reken hy ewe trots: "Ek het 'n klein piepie gehad…" Nou hoe dan nou anders?!

André het die rympie wat ek vir hulle geleer het, sy eie variasie gegee:
"Jan Tiek, Jan Tak,
Jan Hawersak,
Jan Vinger-in-die-mond,
Jan Pêrrestront"
Bloedrooi word hy toe hy besef in die skool sê mens: "Jan Suikerklont" op die einde.



"Frederik, gaan was jou hande, jy maak jou boek vol vuil kolle."
Inus: "Hy kom so vuil skooltoe, hy het nog sy mijamas aan."

Maak 'n sin met VOEL… Ek voel vandag lekker, ek voel met my hande…
Frans: "Of mens kan sê jy is 'n VOEL."

"Waar is Jesus gebore?"
"In die TRIP."

"Wat het die skinker gedroom?"
"Hy droom daar is drie bottels brandy, nee….bier!"



Klikbekkies was daar baie: "Juffrou, Juffrou, hulle vou alweer djeddens!" (Papiergevoude jetvliegtuie het deur die lug getrek) "Juffrou, hy vat my draaiwaai!" ( Engels: dry-whipe, 'n pen vir 'n wit bordjie) en "Juffrou, Johantjie sê nottehel!"

'n Gereelde briefie van Louisa se ma op 'n Woensdag wanneer ons swemperiodes gehad het: " Louisa mag nie swem nie, want sy kan nie swem nie."
Was dit nou nie 'n uitstekende rede nie.
 

Ons het versies geleer en lieflik opgesê. Dit was dan ook altyd goed om dit weer te herhaal, juis omdat daar soveel genot daarmee saamgegaan het. Ek het dus onbewustelik baie dikwels gesê: " Kom ons sê dit nog een maal vir oulaas."
Toe die hoof van die skool kort daarna by my klasdeur inloer, vra een van die snipsnaters: "Is dit OULAAS?"

2 comments:

  1. Ha ha ha! Hoop Oulaas het daai versie geniet! En gelukkig het die kindertjies gedink jy's nog mooi met daai blou oog!

    ReplyDelete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...