12 December 2013

Die wisseltand


Hy het dié oggend skool toe gekom met ‘n plastiek sakkie in sy hand. Daar was ‘n tand en ‘n 50c in. Toe hy my sien, het hy die 50c trots in die lug gehou en jubelend uitgeroep: “Kyk my geld, die muis het dit vir my gebring!”  Sy oë was blink en baie bruin.  Die taai mondjie het van vreugde gelag.
“Dis gaaf. Is daar dan muise in die koshuis?” het ek belangstellend gevra.

“Ja, ‘n muis het dit vir my gebring, ‘n regte, groot koshuismuis!”

“Is nie, dis Meneer wat dit gegee het, man!” het ‘n ander koshuisbrakkie uitgeroep.  Hy was duidelik lankal by die tandmuis-stadium verby.  “Hoekom het jy dan nog die tand?” het hy leedvermakerig gevra.

“Die muis het gesê hy sal weer kom, wêêêê tog!” Hy het sy tong so ver as hy kan vir sy slim maat uitgesteek. Toe het hy na my gekyk. Groot droefenis oor geheel sy gevreetjie. “Is mos ‘n muis né?” en na sy opponent se kant toe: “Jy is net simpel, hoor jy!”

Ek het besef ek moet ingryp. “Bêre die sakkie binne-in jou tas hoor.”  Hy het nie geluister nie. Ek het nie opgelet nie. Daar was twaalf ander Graad Eens wat ook elkeen sy stukkie aandag wou hê. Nà ‘n ruk merk ek op dat hy steeds die sakkie styf vasklem in sy een hand.

Wie luister nou ook na so ‘n opdrag as dit jou enigste aardse besitting is wat vreugde verskaf?  Wie luister as jy maar net sewe is en in die koshuis is. Wie luister as jou pa en ma ver is en boonop uitmekaar is. Wie luister dan?

Hy het die 50c voor hom op sy tafel neergesit. Hy het kort-kort daarna geloer terwyl hy sy somme met halwe aandag gedoen het.  Die tand het hy in sy broeksak vasgehou met die hand wat nie skryf nie.

Dit was toe ons op die mat sit en prentjies uitknip, dat hy ewe skielik vervaard opspring en na sy tafel toe storm. Die 50c was weg.

Luidkeels het hy losgebars: “My geld is weg, my geld is weg!” Die trane het oor sy wange gestroom.

‘n Hele kwartaal van maklik huil is agter die rug. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ge-mamma en geliefie het,  is reeds verby. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ‘n paar maal by my huis laat kom kuier het om die huil sodoende te laat opdroog. ‘n Kwartaal waarin ek soms hard gepraat het, getroos het, geduldig en ook ongeduldig was.  Dis verby.  Maar sy huil het bly vasklou.  My simpatie was dus maar yl toe ek gevoelloos sê: “Jy wou mos nie na my luister nie!”

As ek gedink het dìt gaan sy jeremiade stopsit, het ek ‘n fout gemaak. Hy het harder as ooit sy hartseer en weemoed oor die aarde uitgegil en net daar besluit om na sy geld te begin soek. “Ek gaan in al die stoelsakkies kyk!” het hy geskree. “Kyk dan!” het ek moedeloos teruggeskree. Totaal onprofessioneel en onopvoedkundig.

Terwyl hy die blou sakkies wat aan die stoeltjies hang, gefynkam het, het sy jammerklagte luidkeels opgeklink. “Boehoe, boehoeoeoe!” Toe hy niks kon kry nie, het hy uitdagend aangekondig: “Nou gaan ek in die tasse soek!” 

Hy het een vir een tas oopgepluk en verbete begin krap. Ek het hom laat begaan.  Die res van die klas het hom grootoog aangekyk. Nie seker wat hulle te doen staan nie.

Toe dit amper pouse was, het ons uitgegaan om derdemannetjie te speel. Sy droefheid was vir ‘n oomblik vergete. Net vir ‘n oomblik.

Skielik het hy op sy knieë neergesak en huilend, trooteloos uitgejammer: “Nou is alles weg. My tand is weg, my geld is weg!” Sy gesiggie was nat van die trane. Sy neus het getap. Sy mond was taai. Deur die trane heen, het hy stip na die gras voor hom gekyk. Iewers moes ‘n klein, wit melktandjie wees.

Ek het hom jammer gekry en een van die ander seuns gevra om hom te help soek. Toe het ek gaan tee drink.

Terug in die klas, stamp iemand (opsetlik?) ons huilbalie se potlode van die tafel af. Onnodig om te sê, bars hy weer uit in sy weemoedige huil-skree. Ek het voor hom gaan sit. “Sê vir my, gaan jy die hele jaar in die koshuis bly? Gaan jou ma jou nie uithaal en in ‘n ander skool sit nie?” het ek oënskynlik kalm en rustig gevra.

Sy trane het skielik opgedroog.  Met ‘n astrantheid wat gladnie by sy tranedal van vroeër pas nie, het hy vies vir my gesê: “Nou is Juffrou ook moeg vir my.”
“Nie vir jou nie. Ek is moeg vir jou gehuil.” Hy het stilgebly. Salig.

Toe ek die middag na my kar stap, leeggetap en bly dis naweek, lê die 50c blink voor my in die middagson op die gras. Sal ek dit hou of moet ek dit ver, ver weggooi?

Toe Maandag kom, bêre ek die geld in my laai met die woorde: “As jy vandag nie een keer huil nie, kan jy dit kry as dit huistoetyd is.” Hy was so soet soos ‘n droom.

Toe kry ek ‘n ietwat bose plan: “Kom ons bêre jou 50c tot Donderdag as dit koekverkoping is.”  Dit sou nog drie hele dae van vrede in my klas beteken. Sagte, wonderlike vrede. “Oukei,” het hy ewe inskiklik gesê. Die 50c was nie meer net ‘n gewone geldstuk nie, dit het ‘n baie doeltreffende afpersmiddel geword.

Toe Donderdag aanbreek het hy sy geld gekry. Sy oë het gestraal toe hy ‘n heerlike skyf  koek kon gaan koop. Syne alleen.

Teen dié tyd was hy al gewoond om nie meer so maklik te huil nie. Vrydag het gekom en gegaan sonder een enkele traan. Sy swart ogies het geblink toe hy saam met die ander vir my koorsing: “Totsieiens Juffrou, totsieieiens maatjies!”  En ek het 'n klein bietjie meer van liefde verstaan.

2 comments:

  1. Ai toggie, dat daai tandmuis nousoveel moeilikheid kon veroorsaak!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Stoute muis gewees daai! Dankie vir die inloer Maree.

      Delete

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...