11 December 2013

My kosbaarste brief


 
Ek het ‘n paar woelige seuntjies in my klas gehad. Eendag is drie van die bedrywigstes besig om mekaar te stoot en te stamp. Ek roep hulle toe nader en een van hulle begin droewig huil. “Askies juffrou, askies!” Die ander een begin verduidelik: "Juffrou, ons sal weer vriende word." Die derde outjie staar mistroostig voor hom uit.

My sagte moederhart kon dìt nie hanteer nie en ek kry toe ‘n plan. “As julle elkeen vir my ‘n baie mooi sin op die kaartjie skryf, sal ek julle nie kantoor toe vat nie. Maar dit moet ‘n mooi sin wees!” Hulle het toe so pas die stadium van ek-kan-‘n-sin-skryf bereik.

Ewe bly gryp drie seunshandjies elk ‘n kaartjie en begin ywerig skryf. Nà ‘n paar minute gee die stoutste van die drie sy kaartjie aan my met ‘n selftevrede glimlag. In kinderletters staan daar, duidelik, swart op wit: Vir geewi my sondi asiblief Jfou

***

Nog ‘n briefie wat my ook vas teen die hart lê en wat ek nie kan weggooi nie, was van ‘n mooie, klein witkopdogtertjie wat net begin skryf het, natuurlik presies net soos wat sy gepraat het:
Liewijvrik is soo liev vir jifrou. Ek wil nie hedat jifrou mt wegaan nie. Levti Tonya.
Oral op die papier was uitgeknipte blommetjies met die grootste sorg vasgeplak deur klein handjies.

***

Dit was winterkoud en my hande wou dié oggend nie warm word nie. “Voel hoe koud is Juffrou se hande, “ het ek gesê en met altwee my hande om hul dierbare ou Graad Een-gevreetjies gevat.
“Sjoe, Juffrou!” sê André.
“Ek wil ook voel,” sê Louis, “en ek....en ek!” koor almal agterna.

Skielik spring Herman op en druk ‘n briefie in my hand.
“Ek is lief vir Juffrou.”
“Oe, lekker, iemand is lief vir my,” sê ek en druk die briefie hier voor by my bors in, min of meer daar waar ander mense hul geld bêre.

“Ek gaan hierdie briefie heeldag hier teen my hart hou hoor Herman,” sê ek. Sy oë straal. Hy blom behoorlik.
“Ja en dan kan dit Juffrou sommer lekker warm maak,” sê Liana ewe slim. Sy het op hierdie vroeë ouderdom alreeds goed geweet hoe die liefde werk.

2 comments:

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...